Drakenstein-munisipaliteit ontken bewerings van nepotisme met aanstellings

Die Drakenstein- munisipale gebou in die Paarl. Foto: Argief/Rasaad Adams

‘n Munisipale werker en onberispelike bron het die Drakenstein-munisipaliteit se aanstellingsproses as ‘n administratiewe nagmerrie bestempel, met nepotisme glo aan die orde van die dag.

Die werker, wat anoniem wil bly, het onthul dat die munisipale werknemersdatabank glo tans meer as 30 000 name bevat.

“Mense beweer kandidate word ewekansig uit die databank getrek. Verduidelik jy nou vir my hoe ses mense op 1 Junie in dieselfde departement permanent aangestel is en almal van hulle het familielede wat vir die munisipaliteit werk?” het die werker beweer.

Volgens die werker kan dit nie wees dat ‘n ewekansige stelsel gebruik word nie.

“Waar is die regverdigheid? Elke kandidaat se CV moet deeglik oorweeg word en diegene wat al langer in die databank is, moet eintlik voorkeur kry.

“Die wyse waarop onderhoude vir sekere poste gevoer word, is ook iets wat my pla. Die unies sit slegs in by die onderhoude, maar is glad nie deel van die besluitneming van wie die pos gaan vul nie.

“Wanneer ‘n senior bestuurder dus nie van my hou nie of ons persoonlike

probleme met mekaar het, gaan ek mos nooit vir werk in aanraking kan kom nie.

“Hierdie hele aanstellingsproses is ‘n administratiewe nagmerrie en jy moet basies iemand daar binne ken,” het die werker aan die koerant gesê.

Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek by navraag gesê die databasis bevat glad nie 30 000 name soos deur die werker beweer nie.

“Die munisipaliteit gebruik twee databasisse – een vir die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) vir tydelike kontrakte, en ‘n munisipalewerkdatabasis vir algemene werkersposisies, wat tans op 6 531 aansoekers staan.

“Hoewel dit die verantwoordelikheid bly van diegene wat geregistreer het om hul kontakinligting op datum te hou, publiseer die munisipaliteit af en toe kennisgewings in die plaaslike media, wat diegene wat geregistreer het, herinner om hul inligting op te dateer,” het Seraj Johaar, die uitvoerende direkteur vir korporatiewe en beplanningsdienste, gesê.

Volgens Johaar gebruik die munisipaliteit glad nie nie ‘n ewekansige of outomatiese keuringsinstrument om kandidate op ‘n kortlys te plaas nie.

“Ons gebruik ‘n handmatige stelsel deur die databasis vir die volgende te filter: Die inherente vereistes en pligte wat in die posbeskrywing van die pos uitgelig word – ooreenstemmend met die aansoeker se CV, kwalifikasies en verwante ervaring; billike indiensneming; en ligging van die pos binne die Drakenstein- munisipale gebied.”

Hy sê aansoekers is verplig om familie- verwantskappe in die munisipaliteit aan te dui.

Diegene wat op onderhouds- en kortlyspanele sit, word ook verplig om botsende belange vooraf te verklaar, verduidelik hy.

Volgens Johaar het die ses werkers waarna die bron verwys praktiese toetse en onderhoude ondergaan en as die beste kandidate vir die betrokke posisies geëindig.

Hy sê enige bewerings van nepotisme, wat verder as net familie strek, word in ‘n ernstige lig beskou en kan by 0800 555 337 aangemeld word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article