Paarl Post is verlede week deur die Drakenstein-munisipaliteit genooi om in sy splinternuwe en moderne brandweerwa ‘n draai te ry. Die voertuig is onlangs aangeskaf nadat een van die branddienste se hoofwaens in Maart vanjaar ná ‘n ongeluk in die Paarl se Bergrivier Boulevard afgeskryf is.
Dissipline, professionaliteit en stiptelikheid is van die woorde wat gebruik kan word om die Paarlse brandweer se bedrywighede te beskryf.
Die koerant is op ‘n eerstehandse toer van die stasie se geriewe, beheerkamer en argiefkamer geneem en ons kon ook met van die brandbestryders aan diens gesels.
‘n Oproep oor ‘n brand in die Paarl het tydens die koerant se besoek ingekom. Die nuwe brandweerwa met sy bemanning – met hul brandpakke aan – het die stasie binne minder as ‘n minuut verlaat.
Die koerant is meegedeel dit word van die branddienste vereis om binne drie minute nadat ‘n oproep ontvang is, van die brandweerstasie af te vertrek.
Volgens Wynand Els, die Drakenstein- munisipaliteit se brandweerhoof, is die nuwe brandweerwa teen R9,2 miljoen aangeskaf.
“Die nuwe wa het ‘n sessilinder-enjin, outomatiese ratkas, vierwielaandrywing en ‘n viervoudige sentrifugale
Rosenbauer-pomp met ‘n 3 000-liter-watertenk en ‘n 200-liter-skuimtenk.
“Dit beskik oor ‘n around-the-pump- skuimverspreider met ‘n 1%- tot 6%-instelling, asook ‘n skuimspuit op die dak en wat volledig verstelbaar is,” het Els verduidelik.
Die nuwe brandweerwa het ses toerustingskompartemente met verskeie brandbestrydingstoerusting, asook selfstandige asemtoestelle (SCBA) wat in die agterkajuit gemonteer is. Dit is ook toegerus met kameras, wat ‘n regstreekse beeld gee terwyl die voertuig ry.
Die nuwe brandweerwa het ook vier herlaai-toestelle vir die brandbestryders se flitsligte.
Die voertuig is ook toegerus met ‘n moderne en interaktiewe GPS-toestel.

As deel van Paarl Post se eksklusiewe ervaring die afgelope Donderdag (24 Julie) is ons genooi om op ‘n “brand” by die munisipaliteit se opleidingsgeriewe in die Dal Josafat-omgewing te reageer.
Volgens Els beskik die munisipaliteit nou oor ses brandweerwaens, een hidrouliese platform, vyf veldbrandvoer- tuie en een eenheid wat gebruik word om op voorvalle te reageer waar gevaarlike stowwe betrokke is.
“Behalwe vir die gevaarlike-stowwe- eenheid is al die voertuie toegerus om met brandbestrydingsoptredes te help,” het Els bygevoeg.
Wat die res van die optredes by die brandweerstasie betref, kan Paarl Post uit eerstehandse ervaring sê daar word inderwaar hard gewerk om die beste moontlik branddienste aan die inwoners van die vallei te lewer. Die personeel word opgelei en ook goed versorg.
Aansoekers ontvang behoorlike opleiding. Dit is om hulle vir verskeie scenarios voor te berei.
Brandbestryders moet ‘n reeks teoretiese en praktiese toetse doen waarvoor hulle 100% moet ontvang. Daar is dus geen ruimte vir foute nie, want in die veld kan ‘n fout jou, ‘n spanmaat of mense hul lewe kos.
Soos vroeër genoem, is die stasie met ‘n argiefkamer toegerus. Hier kan brandbestryders leesmateriaal vind om hul geheue oor die teoretiese opleiding te verfris.






You must be logged in to post a comment.