WELLINGTON – Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Wellington het sy skok en kommer uitgespreek nadat ‘n jong volwasse man glo ‘n dragtige hond verkrag het en die hond enkele dae later dood is.
‘n Video-opname van die beweerde gruweldaad het aanlyn gesirkuleer en vorm nou deel van die DBV en polisie se ondersoek.
Dit is in dié stadium nog nie duidelik wanneer die voorval, wat op video vasgevang is, plaasgevind het nie.
Kol. Johan Barkhuizen, die bevelvoerder van die Wellington-polisiekantoor, het by navraag bevestig dat die hond se eienaar ‘n klagte aangemeld het en dat ‘n saak van bestialiteit ondersoek word.
“ ’n Verdagte is geïdentifiseer en die saak word tans ondersoek. Die ondersoekbeampte het reeds verskeie bewyse ingesamel en sal deur nodige kenners, soos die DBV, ondersteun word,” het Barkhuizen vandeesweek gesê.
Die hond se eienaar het op voorwaarde van anonimiteit die voorval aan Paarl Post as “afskuwelik” beskryf.
“Toe die voorval by wyse van die video onder my aandag gebring is, is ek na die jong man se familie toe. Hulle het my basies gedreig dat ek in die moeilikheid gaan kom as die video verder versprei.”
Hy sê hoewel die vierjarige hond geen sigbare beserings getoon het nie, moes hy die DBV raadpleeg as deel van die polisie se misdaadondersoek en vir die nodige toetse om op die dier uitgevoer te word.
Hy vertel dat die dier se toestand verswak het nadat ‘n plaaslike veearts haar kleintjies moes verwyder.
“Hulle het my in ‘n stadium gebel en gevra dat ek maar eerder van haar moet kom afskeid neem. Ek wou haar egter nie so onthou nie,” vertel die hond se eienaar.
Volgens hom beweer die familie dat die jong beskuldigde, glo 19 jaar oud, ‘n psigiatriese pasiënt is.
“Sy familie sê hy het blykbaar die verstand van ‘n vyfjarige. Sy optrede is egter vir my dié van ‘n volwassene wat by sy volle verstand is.
“My groot bekommernis – die rede hoekom ek dit nie net wou los nie – was omdat ek bang was dat hy dit ook aan kinders sou doen.”
Paarl Post verstaan dat die bewerings oor die verdagte se geestesgesondheid een van die redes is waarom hy nog nie in hegtenis geneem is nie.
Elani Graham, ‘n inspekteur by die Wellington-DBV, het by navraag bevestig dat die DBV die polisie met die ondersoek help.
Sy sê die DBV beskou sulke voorvalle in ‘n ernstige lig.
“Die toetse wat ons gewoonlik op diere in sulke situasies uitvoer, is om te verseker dat ons die polisie en staat se saak versterk.
“Vir ons verskil hierdie daad geensins van ‘n verkragtingsaak tussen mense nie en daarom moet verdagtes op dieselfde wyse vervolg word en onderhewig wees aan die Strafproseswet,” verduidelik Graham.
Sy sê hierdie tipe voorval is eintlik meer algemeen as wat die publiek sou wou glo.
“Ongelukkig hang die suksesvolle vervolging van sulke sake van sterk bewyse af. Ons boodskap aan die publiek is altyd dat die beste bewyse ‘n video-opname of foto’s is.”
• Paarl Post kon die beskuldigde se familie nie teen druktyd vir kommentaar bereik nie.





