Die toneel in Patelstraat, Hillside, in Paarl-Oos, waar die ontsnapte gevangene homself glo opgehang het. Foto: Rasaad Adams
Die toneel in Patelstraat, Hillside, in Paarl-Oos, waar die ontsnapte gevangene homself glo opgehang het. Foto: Rasaad Adams

Die familie van ‘n 24-jarige veroordeelde misdadiger, wat die afgelope Dinsdag (9 September) by die Allandale-gevangenis in die Paarl ontsnap en toe later sy eie lewe by ‘n woning in Paarl-Oos geneem het, eis nou antwoorde oor wat moontlik daartoe kon gelei het dat hy homself om die lewe gebring het.

Graine Martin van Amstelhof se ma, Jesmaine Sharter, het telefonies aan Paarl Post onthul dat haar seun na be- wering verskeie kere deur bewaarders by die tronk aangerand en geboelie is.

Sy beweer dat Martin in Januarie 2023 glo so erg aangerand is dat die familie vir bykans ‘n maand nie toegelaat is om hom te besoek nie.

“As my kind vandag nog gelewe het, sou hy daai bewaarders kon uitwys.

“Ons is destyds ingelig dat hy so erg gemartel is dat bloed by sy ore uitgekom het.

“Ons is vir amper ‘n maand nie toegelaat om hom te besoek nie,” vertel Sharter.

Volgens haar het Graine dikwels vertel hoe ondraaglik die lewe in die gevangenis is en dat hy nie meer daar wou wees nie.

Paarl Post verstaan dat hy sedert sy vonnisoplegging in 2023 tyd by beide die Allandale- en die Hawequa-gevangenis in Wellington uitgedien het.

Hy is glo vroeg vanjaar teruggeplaas van Hawequa na Allandale, waar hy lid van Allandale se rugbyspan was.

Graine Martin (24)

Singabakho Nxumalo, ‘n woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het by navraag gesê daar is geen rekord van die beweerde aanranding op Martin nie.

“Volgens die beskikbare rekords bestaan die voorvalle waarna in u navraag verwys word nie, en word dit ook nie deur die amptelike lêer gestaaf nie.

“Die oortreder se mediese rekords toon dat hy behandeling ontvang het vir ’n toestand wat geensins verband hou met die bewerings wat gemaak is nie.

Weens vertroulikheid is ons nie in die posisie om besonderhede oor gesondheidsake bekend te maak nie, behalwe om te bevestig dat die oortreder by toelating ondersoek is en die nodige sorg ontvang het nadat ’n toestand tydens die ondersoek opgemerk is.

“Dit is betreurenswaardig dat ongegronde bewerings van hierdie aard versprei word sonder enige gestaafde basis,” het Nxumalo gesê.

“Die departement sal sy ondersoek voortsit, relevante inligting met die familie deel soos dit beskikbaar word, en gefokus bly op sy kernmandaat.

“Pogings tot sensasie sal ons nie daarvan weerhou om hierdie saak verantwoordelik en feitlik te hanteer nie,” het hy bygevoeg.

Martin was Dinsdag deel van ‘n groep gevangenes wat in die tronk se tuin ge- werk het toe hy ontsnap het.Volgens die departement van korrektiewe dienste het hy ‘n 12 jaar-vonnis uitgedien.

“Hy het ‘n vonnis van twaalf jaar uitgedien vir drie aanklagte van aanranding en diefstal. Hy is op 29 Augustus 2023 in die gevangenis opgeneem,” het Nxumalo Dinsdag in ‘n verklaring gesê.

“Die voortvlugtige is ná ‘n intensiewe soektog, waaraan die polisie en lede van die gemeenskap deelgeneem het, dood aangetref. Voorlopige waarnemings dui daarop dat hy sy eie lewe geneem het deur homself op te hang.

“Die saak is by die polisie aangemeld, en ‘n geregtelike ondersoek sal ingestel word in ooreenstemming met toepaslike prosedures,” het Nxumalo bygevoeg.

Na aanleiding van boodskappe wat Dinsdagoggend op ‘n plaaslike nood-

diens-groep gestuur is, kon Paarl Post aflei dat die polisie en bewaarders Dinsdag omstreeks 10:30 na die jong man begin soek het. Die uitgebreide soektog is in verskeie gebiede in Paarl-Oos, insluitend Amstelhof, Smartie Town, Hillside en Groenheuwel, uitgevoer.

Paarl Post was in Hillside toe rasende inwoners omstreeks 12:20 na ‘n woning in Patelstraat gehardloop het.

Dis hier waar Martin glo in ‘n Wendyhuis dood aangetref is.

Volgens Sharter is sy deur die tronk ingelig dat haar seun ontsnap het, maar moes op sosiale media lees dat hy homself om die lewe gebring het.

“Ek wou dit nie glo en aanvaar nie. Die bewaarders het toe self met die tyding hier by ons woning aangekom en ons is na die toneel toe,” vertel sy.

Die publiek het vandeesweek met gemengde gevoelens op die voorval reageer.

Sharter sê sy steur haar glad nie aan al die negatiewe uitlatings oor haar seun nie.

“Ek het Dinsdagnag deur al die kommentare op sosiale media gegaan. Al wat ek gaan sê, is niemand ken my kind nie.

“Hy het gaan boet vir sy dade, dus gee ek nie om wie wat sê nie. Niemand ken die waarheid oor die verhouding wat hy ten spyte van sy geskiedenis met sy geliefdes het nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article