Die DA, PA, ANC en Concerned Drakenstein Residents (CDR) het elk ‘n kandidaat aangekondig wat aan die tussenverkiesing in wyk 27 (Amstelhof) in die Paarl op 23 Julie gaan deelneem.
Die tussenverkiesing volg ná die afsterwe van Vanessa Booysen van die DA.
Volgens die OVK se nuutste syfers het Amstelhof altesaam 4 004 geregistreerde kiesers.
Paarl Post het die veldtogte in die wyk twee maande lank fyn dopgehou waartydens waargeneem kon word dat die DA en die PA die hardste veg om die wyk te wen.
Plaaslike politike ontleders is ook van mening dat, gegewe die demografie van die gebied gepaard met identiteitspolitiek, sal die DA en PA die meeste stemme in die verkiesing inwin.
Die DA, wat die wyk al die afgelope 15 jaar regeer, sê daar is geen twyfel dat die wyk “blou gaan bly” nie.
Shaleen Solomons, ‘n boorling van die gebied, is die DA se kandidaat vir die wyk.
Mathlodi Maseko, die DA se kiesafdelingleier in Drakenstein, het by navraag aan Paarl Post gesê “Solomons is nog al die jare ‘n gemeenskapsaktivis vir haar mense”.
“Sy is aktief betrokke by talle gemeenskapsprojekte en NGO-aktiwiteite en dien tans in op die wykskomitee van wyk 27. Sy het ook in die DA-wyk-27-tak, onder leiding van wyle raadslid
Vanessa Booysen gedien, met wie sy saamgewerk het.
“Shaleen verstaan die behoeftes en uitdagings van Amstelhof en is aktief betrokke by die sukses wat tot nou bereik is.
“Ons glo sy is die regte mens om te bou op wat raadslid Booysen bereik het en die wyk vorentoe te neem,” het Maseko gesê.
“Ons is vol vertroue die wyk sal blou bly.
“Die werk wat deur wyle raadslid Booysen gedoen is, wys die DA dien die behoeftes van die gemeenskap en nie soos ander partye wat net op sosiale media aktief is nie,” het sy bygevoeg.
Mary Liebenberg, die nasionale hoof van die PA se kiesafdeling, het gesê hul kandidaat, Veronica Boonzaaier, bly ook al hul hele lewe lank in Amstelhof.
Volgens Lienberg is die PA geensins afgeskrik deur die feit dat die wyk al vir 15 jaar in DA-beheer is nie.
“Wat ons anders maak as partye soos die DA, is dat ons altyd sigbaar is op die grond. Ons word nie net in verkiesingstyd gesien nie.
“Daar is so baie probleme wat die laaste ruk tydens ons veldtogte in Amstelhof na vore kom. “Ons mense leef in armoede en haglike omstandighede en dit word vererger deur ‘n munisipaliteit wat net na sekere mense omsien.
“Verandering is op pad en met ‘n kandidaat soos Veronica [Boonzaaier] glo ons hierdie wyk is ons s’n,” het Liebenberg gesê.
“Sy [Boonzaaier] woon al 27 jaar in die wyk. Sy weet wat die behoeftes van ons mense is.
“Sy self was al oor die jare by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke.
“Sy het self gesê in die afgelope 15 jaar van DA-beheer was daar nie enige noemenswaardige verandering in Amstelhof nie.
“Ons kon dus nie ‘n beter kandidaat kies nie,” het Liebenberg bygevoeg.
CDR word deur die gemeenskapsaktivis en radiopersoonlikheid Unita Abrahams in die verkiesing verteenwoordig en die ANC se kandidaat is Nadia Mayekiso.
Beide Abrahams en Mayekiso is ook geen vreemdelinge in die wyk nie.
Mayekiso doen, volgens haar party, al die afgelope 32 jaar gemeenskapswerk in wyk 27.
Sy dien tans in die wykskomitee in die gemeenskapsveiligheidsportefeulje, aldus die party.
Die verkiesing, wat Woensdag 23 Julie gehou word, sal by die Amstelhof Primêre Skool en LK Zeeman Primêre Skool plaasvind.
Slegs kiesers wat geregistreer is en in die wyk woon, sal toegelaat word om te stem.
Stempunte sal om 07:00 open en sluit om 21:00.
Kiesers moet hul identiteitsdokumente – selfs ‘n tydelike een – by die stempunte toon.





