‘n Familie op ‘n plaas sowat 8 km buite Saron tel nog die stukke op en sê hulle sukkel om tot verhaal te kom nadat hul plaashuis Sondag (23 November) in vlamme omhul is en die lewe van twee kleuters geëis het.
Jade Faroa (3) en sy niggie Lenicia Beukes (1) was volgens hul ouma Jacoba Links ten tyde van die brand in die plaashuis se badkamer vasgekeer.
Links, wat Maandag (24 November) nog weens die brand blase op haar vingers gehad het, vertel die brand het laat Sondagmiddag in een van die slaapkamers begin terwyl sy voor die familie se woning op die plaas D.G Perold-boerdery gesit het.
“Ons weet steeds nie hoe dit begin het nie. My dogter, wie se meisiekind doodgebrand het, en haar vriendin het in die sitkamer gesit en TV kyk.
“Toe hulle twee besef iets brand in die kamer, was die vlamme al hoog. Die kinders se oupa [Thomas Links] het op die bed onder die venster gelê en slaap.
“Ons kon hom darem betyds wakker maak. Die twee kleintjies was in die badkamer. Die vlamme en rook was so erg dat ons nie by hulle kon uitkom nie.
“Ons het hulpeloos gevoel. Ons het water probeer gooi, maar dit het nie gehelp nie,” het Links met trane in haar oë vertel toe Paarl Post die plaashuis op die Halfmanshofpad buite Saron Maandag besoek het.


Volgens Links is klein Lenicia se pa, Rhonwin Beukes, Sondag in die Tygerberg-hospitaal opgeneem nadat hy beseer is toe hy ook by die twee kleuters wou uitkom.
Links het nie uitgewei of Beukes vir brandwonde of rookinaseming behandel word nie, maar het wel genoem dat hy tans in die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal behandel word.
Sy sê die familie het alles in die brand verloor.

Konst. Ndakhe Gwala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat die Porterville-polisie, in wie se gebied die plaas val, ‘n geregtelike doodsondersoek geopen het.
“Volgens inligting was twee kinders, die een drie en die ander een jaar oud, agter ‘n matras in ‘n brandende vertrek vasgekeer. Nooddienste is na die toneel ontbied en albei kinders is dood verklaar. Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek,” het Gwala gesê.

Gwala het nie gesê hoe laat nooddienste na die brand ontbied is nie.
Volgens Links sou haar kleinkind, Lenicia, volgende maand haar tweede verjaarsdag vier.
Sy sê die twee was baie lief vir mekaar.






You must be logged in to post a comment.