Die bouwerk van die splinternuwe skoolgebou van Dal Josafat Primêr is goed op dreef, aldus die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
Die kontrakteur wat aangestel is om die projek te behartig het vroeg verlede jaar by die nuwe perseel begin bou.
Kerry Mauchline, woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het by navraag gesê “konstruksiewerk aan die nuwe skoolgebou, wat die huidige een sal vervang, vorder goed, en daar word tans verwag dat dit in September 2024 voltooi sal wees”.
Die nuwe skool sal tot 1 850 leerders kan akkommodeer met tot 40 leerders in een klas. Dit word ook net sowat 2 km gebou van waar die huidige skool gevestig is.
Bronagh Hammond, ook ’n woordvoerder van die WKOD, het op ’n vorige geleentheid gesê die nuwe skoolgebou is nodig en “word gebou om in die verhoogde vraag na skoolplasing, as gevolg van nuwe ontwikkelings in die omgewing, te voorsien.”
Leerders sal ook nuwe geriewe kan geniet, soos ’n saal, ’n netbal- en basketbalbaan, asook ’n sokker- en rugbyveld.
“Die nuwe skool sal twee multimediasentrums, een wetenskap-laboratorium en twee veeldoelige klaskamers en hulpbronklaskamers hê om bykomende akademiese aktiwiteite en ondersteuning aan leerders met leerprobleme te gee.”
Die gebou wat die skool tans huisves, word gehuur. Volgens Hammond word die nuwe skoolgebou besit deur die Wes-Kaapse regering.
- The construction of the new school building for Dal Josaphat Primary is well underway and should be completed by September 2024, the Western Cape Education Department has confirmed.




