Met die eerste oogopslag sal ’n mens dink Emma la Grange is ’n tipiese tienermeisie, maar dié 13-jarige is ’n spoedvraat en reeds ’n kampioen op die renbaan.
Emma is ’n graad 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Paarl en het drie jaar gelede begin om aan motorrenne deel te neem. Sy vertel sy het aanvanklik nie juis belangstelling in die sport getoon nie. Haar jonger broer, Pieter, van die Laerskool Hugo Rust, het eerste daaraan begin deelneem en dit is hoe Emma begin het. Sy sê sy het eendag net uit die bloute haar pa, ook Pieter, gevra of sy dit net een keer kan probeer. Van daar af het sy nie opgehou jaag nie.
Emma het in ’n Mini begin, maar volgens haar het dié motor nie baie krag en spoed gehad nie. Sy het toe oorgeskakel na ’n Volkswagen Golf.
“Ek het met ’n Mini begin jaag, maar sy gebrek aan spoed het my frustreer. Hy het nie genoeg krag gehad nie, toe koop ons ’n Golf.”
Wanneer dié tiener-renjaer op die renbaan is, voel sy effens gespanne, maar dit is ook waar sy op haar gelukkigste is en dit geniet.
Emma, wat aan die Mega Oval-renklub behoort, het onlangs – Saterdag 15 Januarie – aan die Pinkstocks-kategorie vir vroue tydens die 1660- Summer Slam-kampioenskap in Worcester deelgeneem. Dié afdeling vir vroue is spesifiek ter ondersteuning van kankerbehandeling gestig.
Volgens Emma was hulle altesaam sewe vrouejaers wat deelgeneem het, van wie sy die jongste was.
Sy het loshande die eerste plek opgeraap.
“Ek was baie bly daaroor en dit was net lekker. Ek het dit baie geniet om daar tussen die pinkstocks te jaag.”
Emma het op 22 Januarie vir die eerste keer op ’n teerpad gery toe sy aan die Cape Helldrivers op Killarney deelgeneem het. Sy was die naaswenner in die Junior Stockrod-afdeling.
Dit was ’n groot prestasie vir haar omdat sy nog net aan grondpaaie by die renbaan by Kleinplasie in Worcester gewoond was. Sy is nou gereed om hierdie naweek weer die stof te laat staan by die Weskus-ovaalbaanrenne in Saldanhabaai.
Dié kampioenrenjaer van Wellington glo baanrenne is nie net ’n sport vir seuns nie. Sy moedig jongmeisies aan om hul drome te volg, al dink ander dat hulle nie suksesvol kan wees nie.
“Ek sal sê net omdat jy ’n meisie is, beteken dit nie jy kan nie iets doen wat ’n seun kan doen nie.”
Annatjie la Grange erken die sport waaraan haar kinders deelneem, is baie stresvol vir haar as ’n ma, hoewel sy noem dat die renne die “pa-ding” is wat Pieter met die kinders doen.
Annatjie ondersteun egter haar kinders ten volle. Sy is ook ’n groot aanhanger van meisies wat aan dié sport deelneem. Sy spog dat haar dogter die algehele eerste plek in die vorige seisoen losgejaag het.
“Ek dink dit is awesome wat die meisiekinders doen en ek dink ons moet aanhou meisiekinders inspireer om so iets te doen,” voeg Annatjie by.
Weg van die renbaan is Emma gaande oor swem en hokkie, maar renne is haar groot liefde. Volgens haar het sy nie ’n wenresep wat renne betref nie, maar wat sy wel weet, is dat sy nie wil ophou met motorsport nie.. At first glance, one would think that Emma la Grange is a typical teenage girl, but the 13-year-old is already a champion on the racetrack.





