Kriminele het Woensdagoggend (15 Februarie) ’n geldleningsonderneming in Klein Drakenstein-weg in die Paarl, geteiken.


Inbrekers het Woensdagoggend vroeg op ’n geldleningsonderneming in Klein Drakenstein-weg in die Paarl, toegeslaan.

Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, is polisiebeamptes omstreeks 05:00 na die toneel ontbied.

’n Voetganger wat op sy daaglikse staproete op pad werk toe was en verby die toneel geloop het, het aan Paarl Post gesê die veiligheidshek van die besigheid was oopgebuig. Polisiebeamptes van Paarl-Oos polisie was toe alreeds besig om die toneel te fynkam vir enige leidrade.

Beamptes het gevind dat iemand by die sakeperseel ingebreek het. Op ‘n foto wat van die toneel geneem is kan daar duidelik gesien word hoe stukkies glas rondlê.

Voorts is speurders van die Paarl-Oos-polisie besig om die inbraak te ondersoek. Seekoei het teen laat Woensdagmiddag gesê dat daar nog geen nuwe verwikkelinge is in die ondersoek nie. Paarl Post het ook uitgereik na die besigheid, maar hulle wou nie bevestig of enigiets gesteel is tydens die insident nie. Teen Vrydag (17 Februarie) was die besigheid weer ten volle operasioneel.

Geen verdagtes is tot dusvêr
in hegtenis geneem nie. Paarl-Oos-polisie doen ‘n beroep op gemeenskapslede wat
moontlik inligting oor die inbraak het om navore te kom en hulle te kontak by 021 877 5900.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article