Die nuutste misdaadstatistieke skets glad nie ’n “positiewe prentjie” van die misdaadsituasie in Suid-Afrika nie, het Bheki Cele, die minister van polisie, erken.
Cele het die misdaadstatistieke van die derde kwartaal van die 2022-’23-boekjaar Vrydag 17 Februarie in Kaapstad bekend gemaak.
Die syfers is van Oktober tot Desember 2022.
“Hoewel die misdaadsyfers, wat ons vandag bekend maak, nie ’n algehele positiewe prentjie van die misdaadsituasie in ons land skets nie, wys dit egter die polisie beur terug teen misdadigheid deur sigbare polisiëring en ontwrigtende optredes.”
Cele meen hoewel ’n styging bespeur is in kontakmisdade soos moord, aanranding en roof, is daar ’n aansienlike verbetering in die opspoor van misdade as gevolg van polisieoptrede.
Altesaam 7 555 mense is net tussen Oktober en Desember verlede jaar vermoor.
“Uit die 7 555 mense wat in die drie maande van aanmelding vermoor is, is 3 144 mense met ’n vuurwapen doodgemaak en 2 498 mense is met ander wapens soos messe, skerp en stomp instrumente, bakstene en in baie gevalle met die kaal hande vermoor.”
Cele doen ’n beroep op enigiemand wat inligting het oor misdade en onwettighede, soos ongelisensieerde vuurwapens, om die polisie daarvan in te lig. Hy spog dat polisiebeamptes die afgelope 12 maande altesaam 65 519 vuurwapens permanent van die strate verwyder het.
“Met die ontleding van die huidige en vorige statistieke is dit duidelik dat vuurwapens net ’n deel van ’n groter probleem is. Die kern van die saak is menslike gedrag. Ons moet as Suid-Afrikaners eerlik wees oor die oorsake van geweld en dit aanpak. Hoë vlakke van werkloosheid en armoede, die groei van informele nedersettings met min tot geen dienste nie, en ander maatskaplik-ekonomiese euwels tesame met ’n groot aantal ongedokumenteerde buitelanders, wat moeilik is om op te spoor, kweek misdadigheid.”
In die statistieke ingesluit is die top-30 polisiekantore van die verskeie misdade wat oor die drie maande aangemeld is.
Die Paarl-Oos polisie staan in die 20ste plek nasionaal wanneer dit by kontakmisdade kom, en ook 20ste wat opsetlike beskadiging van eiendom betref.
Die Paarl-polisie het dit ook onder die top-30 gemaak. Dié polisiekantoor staan in die 16de plek vir inbraak by nie-residensiële persele en 25ste vir alle vorms van diefstal (soos winkeldiefstal) wat nie elders genoem is nie.
- The latest crime statistics do not paint a “positive picture” of the crime situation in South Africa, Police Minister Bheki Cele admitted.




