Die Paarl is ’n steunpilaar armer ná die onlangse afsterwe van Stephanus Schoeman, wat ’n geliefde geestelike leier in die Nuwe Apostoliese kerk asook ’n voormalige werker van Drakenstein-munisipaliteit was.

Schoeman is op 6 Februarie in die ouderdom van 69 jaar oorlede ná ’n kort siekte.

Shanlynn Schoeman beskryf haar oupa as ’n liefdevolle man en iemand wat altyd ’n grappie gehad het om te vertel. Hy het ook altyd ’n glimlag op sy gesig gedra.

“My oupa het baie weinig ’n gesig vergeet en altyd almal gegroet en gesels orals waar hy gekom het. Hy was ook baie Godvresend en lief vir die Here se werk. My oupa was ook baie familie-georiënteerd en het als in sy vermoë gedoen om sy vrou en kinders se lewe oor die jare heen beter te maak.”

Schoeman is op 6 Januarie 1954 in Worcester gebore en het in Prins Albert grootgeword, waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi het. Hy het in die vroeë jare sewentig Paarl toe gekom op soek na werk sodat hy sy familie kon ondersteun.

As kind is Schoeman in die NG kerk gedoop en voorgestel. Ná sy aankoms in die Paarl is hy bekend gestel aan die Nuwe Apostoliese Kerk waar hy in 1975 aangesluit het. Schoeman is in 1997 verordineer as onderdiaken. Hy het oor die jare heen ook as ’n diaken, priester en tot sy aftrede as evangelis gedien.

Volgens Shanlynn sal haar oupa onthou word as ’n pligsgetroue dienaar in die gemeenskap, veral by die Lantana-gemeente in Paarl-Oos waar hy hoofsaaklik tot 8 Maart 2020 gedien het.

Vir jare was Schoeman ook werksaam by die munisipaliteit.

Hy was 25 jaar in diens en het in verskillende departemente gewerk, onder meer die parke- en vaste afval-afdelings tot voor sy aftrede in 2019.

“Sy oudkollegas onthou hom as ’n streng, maar tog liefdevolle man wat baie lief was vir sy werk, en baie netjies was beide op homself en sy werksomgewing.”

Shanlynn sê haar oupa sal onthou word vir sy skaterlag en sy vermoë om ’n vertrek met sy warm persoonlikheid op te helder.

Hy was onder inwoners bekend as oom Fanie.

“Hy was ook baie lief vir musiek maak by die huis vir ons en die bure – dit gaan ons almal mis. Ná sy aftrede was hy baie lief om vir sy familie vetkoek en brood te bak en aknie te maak en dit gaan ons baie mis. Hy was ’n pa en oupa duisend vir ons,” voeg sy by.

Hoewel Schoeman baie aktief was, het hy in Januarie vanjaar siek geword.

“Sy heengaan was baie skielik en is nog steeds onwerklik vir baie mense, maar ons berus ons in die feit dat hy ’n vol lewe gehad het en baie mense geraak het met sy liefdevolle persoonlikheid.”

Ten tyde van sy afsterwe was hy en sy vrou, Linda, 46 jaar getroud. Hulle het drie dogters, Charlene, Lee-Ann en Steplin, asook sewe kleinkinders.

Familie en vriende het op 11 Februarie hul laaste eer aan Schoeman by ’n verassingsgedenkdiens betoon.

  • The Paarl is a pillar poorer after the recent death of Stephanus Schoeman, who was a beloved spiritual leader in the New Apostolic Church in town as well as a former worker of Drakenstein Municipality.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post Medical Guide – 30 April 2026
    Credit: Heleen Smit Credit: Heleen Smit

Gift this article