’n Gr. 4-leerder by Soetendal Primêr in Wellington sal later die maand nie net die Boland nie, maar ook die hele Wes-Kaap verteenwoordig wanneer sy aan die nasionale landloop-kampioenskap in Polokwane deelneem.
Jess-Nique Nuwegeld (10) het haar plek in dié kampioenskap verseker toe sy onlangs tweede in haar ouderdomsgroep by die Western Cape Cross Country Champs, wat in George gehou is, geëindig het.
Jess-Nique se talent en deursettingsvermoë is verlede jaar deur haar afrigter, Freddie Williams, by dié plattelandse skool raakgesien.
“Sy was van die begin af altyd ywerig. Wanneer daar geoefen moet word, is sy altyd betyds. Onthou, atletiek is mos ’n wintersport. Hierdie kind het kaalvoetjies begin hardloop. Sy het nooit gekla dat haar voete koud kry nie,” het Williams aan Paarl Post gesê.
Williams is al 13 jaar by die skool betrokke en het ook Jess-Nique se ouer suster in 2017 onder sy vlerk gehad toe sy destyds in die Bolandspan opgeneem is.
Hy sê hy is baie trots op wat Jess-Nique tot dusver bereik het.
“Man, ek kan sommer huil van die trots. Sy is werklik ’n voorbeeld vir ander kinders. Sy het juis in ’n radio- onderhoud die ander dag gesê indien daar kinders is wat in atletiek belangstel, moet hulle na ‘Meneer Williams’ toe kom. Ons kinders is honger vir hierdie soort goed,” vertel haar trotse afrigter.
Jess-Nique sê hoewel sy so bietjie senuweeagtig is vir die aangeleentheid in Polokwane, sien sy baie uit om die atletiekbaan haar eie te maak.
“Ons was een keer aan die oefen toe was daar ’n bordjie teen die veld se heining wat lui Home of Champions. Dit is iets wat ek nog altyd by my dra en wat my staande hou. Wanneer ek hardloop, maak nie saak waar nie, sê ek vir myself ek is ’n champion.”
Sy het gister (27 September) vertrek na Polokwane. Enigiemand wat met haar familie of skool in kontak wil kom, kan die skool by 021 864 1076 bel.





