Vir die meeste tieners beteken die matriekjaar eksamens, afskeidsvieringe en planne maak vir die toekoms. Vir die 18-jarige Miguel Hendricks van Wellington het dit egter ook beteken om ‘n ekstra verantwoordelikheid aan te pak – die verkoop van druiwe om sy matriekafskeid by te woon.
Dié leerder van die Bergrivier Sekondêre Skool het die afgelope paar maande die aandag van die gemeenskap getrek nadat hy begin het om houers druiwe in Wellington en omliggende gebiede te verkoop.
Wat as ‘n plan begin het om geld vir sy matriekafskeid in te samel, het uiteindelik vir hom belangrike lewenslesse oor deursettingsvermoë en selfstandigheid geleer.
Miguel, wat op ‘n plaas buite Wellington in die rigting van Malmesbury woon, sê die idee het ontstaan omdat druiwe volop beskikbaar was gedurende die oes- en verpakkingseisoen.
“Ek bly op ‘n plaas en dit was druiweseisoen” en daarom het hy besluit om die geleentheid te gebruik, het hy vertel.
Hy het die vrugte by die plaas se pakstoor gekry en dit daagliks verkoop wanneer sy skoolwerk dit toegelaat het.
“Ek het elke dag verkoop en die druiwe by die pakstoor gekry. Ek het dit by die skool en in die [Wellington]-omgewing verkoop,” het hy gesê.
Die inkomste uit die verkope het gehelp om sy planne vir die matriekafskeid te ondersteun, maar ook om ander uitgawes te dek wanneer dit nodig was.
Daarom kan hy nie presies sê hoeveel geld hy uiteindelik ingesamel het nie.
“Ek kan nie sê hoeveel altesaam nie, omdat ek van die geld tussendeur gebruik het,” het hy verduidelik.
Tans het sy klein onderneming egter tot stilstand gekom. “Ek verkoop op die oomblik niks nie omdat die druiwe buite seisoen is.”
Volgens Miguel het die ondersteuning wat hy uit die gemeenskap ontvang het hom verras.
“Hulle was almal geskok, maar ook bly vir my. Hulle het my deurentyd ondersteun,” volgens hom.
Hoewel die aandag op sy matriekafskeid gevestig was, sê Miguel sy hoof fokus bly sy toekoms ná skool.
Hy hoop om eendag as elektrisiën te kwalifiseer en ‘n loopbaan in die bedryf te bou.
“My droom is om ná skool ‘n elektrisiën te word,” het hy gesê.
Hy glo die ervaring het hom gewys dat omstandighede nie noodwendig bepaal wat iemand kan bereik nie.
“Dit het my geleer en gewys dat ‘n mens kan as hulle wil, maak nie saak hoe dit mag wees of dalk mag lyk nie, maar dit mens altyd kan.”




