WELLINGTON – ‘n Plaaslike klubrugbyspeler (23) en sy vriend (28) wat gesamentlik teregstaan op vier aanklagte van verkragting teen ‘n 21-jarige student van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) op die Wellington-kampus, het by vandag (5 Mei) se borgtogaansoek aangedui dat albei van hulle beplan om skuld te ontken en hul onskuld tydens die verhoor te bewys.
Die twee mans het by monde van hul regsverteenwoordiger, Elton Rochert van Rochert Attorneys in Kaapstad, verklarings afgelê as rede dat hul skedule-ses-borgtogaansoek goedgekeur moet word.
’n Skedule-ses-borgtogaansoek behels ernstige misdade waar borgtog slegs in uitsonderlike omstandighede toegestaan word. Dit sluit misdade soos voorafbeplande moord, verkragting met verswarende omstandighede en gewapende roof in. In sulke gevalle rus die bewyslas op die beskuldigde om die hof te oortuig dat uitsonderlike omstandighede bestaan wat sy of haar vrylating regverdig.
Die staat, by monde van Melissa van der Byl as aanklaer, staan die aansoek teen. Die landdros is Martie Wilson.
Die staat het gister (4 Mei) in die hof bekend gemaak dat hy nog drie bykomende aanklagte by ’n reeds bestaande verkragtingsaak gevoeg het waarna die saak tot vandag uitgestel is omdat die verdediging aangedui het dat hulle meer tyd benodig om voor te berei.
Die twee mans het vir die eerste keer op 28 April in die Wellington-landdroshhof verskyn, volgens sers. Wesley Twigg, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie.
In die rugbyspeler, wat van die Paarl is en steeds in die dorp woon, se beëdigde verklaring ter ondersteuning van sy borgtogaansoek, het hy sy weergawe van die gebeure neergepen.
Volgens hom is hy op 27 April in hegtenis geneem nadat die beweerde verkragtingsvoorval in die vroeë oggendure van 26 April in ‘n studentehuis plaasgevind het.
Sy verklaring lui dat hy en sy mede-beskuldigde die klaer en twee van haar vriende by ‘n nagklub in Newton ontmoet het. Een van die klaer se vriende was glo in ‘n verhouding met een van sy spanmaats.
Die rugbyspeler het verder onthul dat hy en die klaer seksuele omgang met wedersydse toestemming in 2025 gehad het in dieselfde kamer en op dieselfde bed waar die onlangse beweerde verkragting plaasgevind het.
Die rugbyspeler se medebeskuldigde het glo dieselfde aand in die klaer se kamer oorgeslaap.
Volgens die beskuldigde het hy op die aand van die beweerde verkragting by die klub vir die klaer gevra oor ‘n naakfoto van homself wat geneem is tydens hul seksuele omgang in 2025 en wat sy glo steeds op haar foon gehad het. Daarna, en sonder dat die klaer glo geantwoord het, het die twee beskuldigdes die klaer ‘n saamrygeleentheid na die studentehuis gegee waar sy woon.
Die klaer het toe glo die twee beskuldigdes na haar kamer genooi waarna die rugbyspeler en sy konsensuele seksuele omgang gehad het. Die mede-beskuldigde was glo ook in die kamer, maar het die kamerligte op instruksie van die klaer afgesit en in die kamer by die deur gewag.
Volgens die rugbyspeler se verklaring kon die mede-beskuldigde glo nie die seksuele omgang sien nie, omdat dit op ‘n bed plaasgevind het wat deur ‘n muur versper was.
Die rugbyspeler het benadruk dat sy mede-beskuldigde nie aan die klaer gevat of seksuele omgang met haar gehad het nie.
Die seksuele omgang is toe onderbreek deur ‘n telefoonoproep op die klaer se foon van ‘n vriend wat glo gesê het dat hy op pad is na haar toe.
Die klaer het toe vir die twee mans gevra om die perseel te verlaat, waarna sy vir die rugbyspeler glo ‘n drukkie gegee het. Die twee mans was volgens die verklaring glo ongeveer 15 minute by die klaer se studentehuis voordat hulle weg is.

Ná ‘n paar uur het die rugbyspeler se vriend en mede-spanmaat hom glo gekontak en gevra vir sy woonadres vir ‘n “pakkie” wat by hom afgelewer moet word. Die beskuldigde het die woonadres vir hom gegee, maar het in sy verklaring gesê dat hy dié versoek “vreemd” gevind het.
Volgens hom was hy verlede Donderdag (30 April) nadat hy in hegtenis geneem is deur sy regsverteenwoordiger meegedeel dat hierdie vriend sy WhatsApp-kommunikasie tussen hom en die klaer ingedien het as ‘n bewysstuk wat by sy verklaring gevoeg is.
In die kommunikasie vra die vriend vir die klaer duidelikheid oor die beweerde verkragting nadat hy vir haar die rugbyspeler se adres gegee het, waarna sy geantwoord het dat sy nie verder oor die aangeleentheid kan uitbrei nie.
In die kommunikasie het die klaer ook beweer dat die mede-beskuldigde gemasturbeer het terwyl die rugbyspeler haar verkrag het en dat hulle onder vals voorwendsels haar studente-akkommodasie betree het deur te sê dat hulle die badkamer moet gebruik.
Die mede-beskuldigde het op 1 Mei sy 28ste verjaarsdag in die Allandale-gevangenis deurgebring ná sy inhegtenisneming en woon ook in die Paarl.
LEES OOK: Plaaslike rugbyspeler en vriend staan tereg op vier aanklagte van verkragting
Hy is verbonde aan ‘n rugbyklub in die Swartland-distrik.
Die rugbyspeler het in sy verklaring vertel dat hy verbaal ‘n kontrak aanvaar het by ‘n vooraanstaande rugbyklub en sou die afgelope Sondag (3 Mei) na Limpopo gereis het waar die klub gesetel is om sy kontrak te begin.
Die saak word Vrydag (8 Mei) hervat wanneer die staat sy verweer sal lewer.
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.
Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.




