ongeluk
‘n Motor en ‘n vragmotor was op die Vrygunspad in ‘n botsing betrokke. Foto: Verskaf

PAARL – Die Paarl en omliggende gebiede is gister (20 April) deur ’n reeks ernstige padongelukke geruk, waarin minstens twee mense dood en verskeie ander beseer is. Die ongelukke het onder meer op die Vrygunspadook die R44 in die omgewing van Noorder-Agter-Paarl en die N1 plaasgevind.

Die mees tragiese voorvalle het vroegoggend omstreeks 07:00 op die Vrygunspad in Agter-Paarl plaasgevind, waar ’n 72-jarige vragmotorbestuurder sy lewe in ’n botsing teen ’n Volkswagen Citi Golf verloor het.

Volgens Thembakazi Mpendukana, ‘n woordvoerder van die provinsiale polisie, was albei voertuie onderweg van Paarl in die rigting van Malmesbury toe die botsing gebeur het.

Kurt Maske, ’n ER24-paramedikus en lid van Franschhoek First Responders, sê die Citi Golf het vermoedelik langs die pad tot stilstand gekom – moontlik weens meganiese probleme. Die vragmotor, wat in dieselfde rigting gery het, het teen die stilstaande voertuig gebots.

Die slag was só groot dat albei voertuie in ’n oop veld langs die pad op hul dakke tot stilstand gekom het. Die vragmotorbestuurder is op die toneel dood, terwyl die vragmotor se passasier en die bestuurder van die Citi Golf ernstige beserings opgedoen het en na ’n nabye hospitaal gehaas is. Geen passasiers was in die motor nie.

Die polisie het ’n saak van strafbare manslag by die Paarl-polisiekantoor geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort, volgens Mpendukana.

Later die dag om ongeveer 14:00 het nóg ‘n botsing tussen ‘n motor en ‘n bakkie nóg ’n lewe geëis. Hierdie botsing het op die R44 in die Noorder-Agter-Paarl-gebied gebeur – ‘n klipgooi van die vorige botsingstoneel op die Vrygunspad af. Die bestuurder van die bakkie is oorlede terwyl die bestuurder in die motor matige beserings opgedoen het, volgens ‘n verklaring op Arrive Alive se webtuiste.

Later in die aand het ‘n botsing op die N1 in Paarl ook gebeur waar twee voertuie betrokke was. Drie pasiënte is op die toneel behandel vir beserings wat wissel van matig tot ernstig, volgens Arrive Alive.

Dieselfde aand het nog ‘n ernstige ongeluk op die N1 naby die Hugenoot-tonnel se tolhek gebeur waarna die Drakenstein Farm Watch (DFW) se beheerkamer ’n noodoproep ontvang het oor ’n “hoëspoed-enkeloertuigongeluk”, waar ’n bestuurder in die wrak vasgekeer was.

Teen die tyd dat drie DFW-lede op die toneel aangekom het, was provinsiale verkeersbeamptes reeds daar en ’n 40-jarige man was steeds in die voertuig vasgekeer. Die voertuig het verskeie kere gerol en selfs die enjin het weens die slag uitgeval, het DWF in ‘n verklaring gesê.

Ten spyte van die omvang van die skade, het die bestuurder wonderbaarlik oorleef en slegs kop- en skouerbeserings opgedoen. Hy is met die hulp van ER24, die metro-ambulansdienste en ander nooddienste uit die wrak bevry en na ’n hospitaal vervoer.

Owerhede het ’n beroep op motoriste gedoen om versigtig te ry en padtoestande deeglik in ag te neem, veral ná ’n dag wat deur soveel tragedie op plaaslike paaie gekenmerk is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article