Shonene Theunissen
Shonene Theunissen (47). Foto: Argief

’n Jare lange regsdrama oor beweerde boedelbedrog het verlede Donderdag (26 Februarie) tot ’n einde gekom toe Shonene Theunissen (47), ’n nie-praktiserende prokureur van die Paarl, deur die handelsmisdaadhof in Bellville drie jaar direkte gevangenisstraf opgelê is.

Theunissen is aan bedrog en geldwassery skuldig bevind nadat sy op 21 Oktober 2024 skuld beken het.

Volgens ‘n verklaring deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) het hofrekords gewys dat Theunissen tussen 2006 en 2009 ’n praktiserende prokureur van die Hooggeregshof in Kaapstad was en is sy ook gedurende hierdie tydperk as eksekuteur van twee boedels aangestel.

Die handelsmisdaadhof het toe bevind dat sy die boedels met ‘n totale bedrag van R1 miljoen bedrieg het deur boedelgeld na haar eie rekeninge oor te plaas vir persoonlike gebruik.

Vonnis

Theunissen is op aanklagte een tot ses vyf jaar gevangenisstraf opgelê, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie gedurende die opskortingstydperk aan bedrog, diefstal, poging tot bedrog en/of poging tot diefstal skuldig bevind word nie.

Addisioneel is sy op aanklagte sewe tot 12 van geldwassery drie jaar gevangenisstraf opgelê, wat ook in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie gedurende dié tydperk aan geldwassery skuldig bevind word nie.

Op aanklagte 13 en 14 van bedrog is sy drie jaar direkte gevangenisstraf opgelê.

Theunissen het blykbaar as versagtende omstandighede haar minderjarige kind wat in haar sorg is genoem.

Sy sal haar gevangenisstraf in die Pollsmoor-gevangenis uitdien.

Familie se stryd

Die vonnis volg op ’n ondersoek wat reeds in 2023 momentum begin kry het ná klagtes van verskeie vermeende slagoffers, onder wie die Paarlse inwoner Jacky le Roux.

Le Roux, dogter van wyle Crystal Gunter wat in Februarie 2021 oorlede is, het Theunissen vertrou om haar ma se boedel te bestuur nadat sy in Mei 2021 as eksekuteur aangestel is.

Volgens vorige onderhoude met Le Roux het bykans R1 miljoen tussen April en September 2022 uit die boedelrekening verdwyn.

Transaksies is glo na persoonlike en/of familiebankrekenings oorgeplaas, onder meer na ’n rekening in die naam van Theunissen se dogter.

Dit was eers teen laat 2022 dat Le Roux onraad vermoed het.

LEES: Prokureur vas ná bedrog van R4 m.

Toe sy bankstate aanvra, was daar volgens haar slegs R605 in die rekening oor.

Theunissen het glo later erken dat sy R529 000 aan Le Roux verskuldig is en onderneem om sowat R50 000 terug te betaal, gevolg deur maandelikse paaiemente van R4 000. ’n Gedeelte is betaal, maar die oorblywende R605 het kort daarna ook uit die rekening verdwyn. Le Roux het nooit die volle bedrag teruggekry nie en dit is onduidelik wat Theunissen met daardie geld gedoen het.

Valke-ondersoek en inhegtenisneming

Reeds in Junie 2023 is bevestig dat Theunissen onder die vergrootglas van die Valke was.

’n Lasbrief vir haar inhegtenisneming is uiteindelik in Julie 2023 uitgereik nadat sy nie vir ’n hofverskyning opgedaag het nie waarna sy toe op 20 September 2023 deur die Valke in die Paarl aangekeer is.

LEES: ‘Boedel-bedrieër hoort agter tralies’

Theunissen het aanvanklik nie die vasgestelde borgtog van R8 000 kon betaal nie en het maande in aanhouding in Pollsmoor deurgebring. Die bedrag is later tot R4 000 verminder, waarna sy vrygelaat is hangende verdere ondersoeke.

Lt.kol. Siyabulela Vukubi, woordvoerder vir die Valke in die Wes-Kaap, het in 2024 gesê die aanklagte teen haar het uiteindelik bykans R4 miljoen beloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article