lughawe
’n Kunstenaarsvoorstelling van die Kaapse Wynland-lughawe. Illustrasie: Cape Winelands Airport/ Instagram

Verteenwoordigers van die Kaapse Wynland-lughawe het vandag (27 Februarie) die Paarl besoek waar hulle aan lede van die Drakenstein Sakekamer ’n omvattende oorsig van dié mega-projek gegee het, asook ’n uiteensetting van wat in die komende maande verwag kan word.

Volgens Deon Cloete, besturende direkteur van die lughawe en voormalige algemene bestuurder van die Kaapstad- en Durban Internasionale Lughawens, vorm die ontwikkeling deel van RSA Aero – die eienaar, operateur en ontwikkelaar van die projek – se breër visie om addisionele lughawens in Suid-Afrika te vestig.


Cloete het verder aangedui dat ander moontlike projekte tans ondersoek word, insluitend ’n lughawe aan die Weskus en een in die omgewing van die gewilde Kruger Nasionale Park.

2000 hektaar

Wat die Kaapse Wynland-lughawe aanbetref, het Cloete gesê dat RSA Aero aanvanklik ongeveer 900 ha grond vir die projek verkry het, maar dat hierdie syfer verhoog het na ongeveer 2000 ha om te verseker dat daar genoeg plek is vir groei en ontwikkeling soos elke fase van die konstruksieproses voltooi word.

Volgens hom sal die grond wat nie ontwikkel gaan word nie, aan boere in die Durbanville-omgewing beskikbaar gestel word nadat RSA Aero ‘n goeie verhouding met Durbanville se landbouvereniging ontwikkel het.

Appèllante

Konstruksie behoort aan die einde van 2026 af te skop nadat RSA Aero vyf appèlle ontvang het uit die ongeveer 1500 geaffekteerde partye wat tans deur Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van omgewingsake oorweeg word.

lughawe
Deon Cloete (besturende direkteur van die Kaapse Wynland-lughawe) vertel meer oor die projek. Foto: Jana Scheepers

Volgens Cloete behoort RSA Aero aan die einde van Maart terugvoering by Bredell se kantoor te kry.

Indien die Wes-Kaapse departement van omgewingsake die appèlle afkeur is die omgewingsimpakstudie dan goedgekeur wat tans tydelik “opgeskort” is terwyl die appèlle ondersoek word.

Die vyf appèllante sluit onder meer in pluimvee bedrywighede en ander buurplase wat bekommerd is oor lug- en klankbesoedeling.

Die lughawe

Dié internasionele lughawe, wat sal beskik oor ‘n aanloopbaan van 3 500 meter (300 meter langer as Kaapstad Internasionale Lughawe s’n), sal die ontwikkelaar tussen agt en 10 biljoen rand uit die sak jaag en word reeds vir ses jaar, sedert 2020 toe die grond gekoop was, beplan.

Dit is geleë buite Durbanville op die hoek van die Lichtenburgpad en die R304. Volgens Cloete was die Kaapse Wynlande Lughawe, voorheen bekend as Fisantekraal Vliegveld, ‘n historiese area wat oorspronklik in 1943 gebou was en as ‘n operasionele basis vir die Suid-Afrikaanse Lugmag gedien het.

LEES OOK: Six appeals against Cape Winelands Airport environmental authorisation

Cloete het verduidelik dat daar beoog word om die lughawe teen 2028 oop te stel vir die publiek nádat die eerste fase voltooi is

Die lughawe sal ongeveer 35 000 direkte en indirekte werksgeleenthede skep en kan gedurende sy eerste 20 jaar van bedryf net meer as 100 000 direkte en indirekte werksgeleenthede ondersteun.

Growthpoint Properties

Die bekende eiendomsbesigheid, Growthpoint Properties sal die langtermyn-verantwoordelikheid vir eiendoms- en batebestuur binne die lugvaartgebied se logistieke, kommersiële en gasvryheidskomponente oorneem, met uitsluiting van die terminaalgeboue.

Verder sal Growthpoint toesig hou oor die projek se hoofkontrakteur om te verseker dat institusionele standaarde vir deursigtige bestuur, finansiële dissipline, die integrasie van positiewe omgewings- en maatskaplike impak, asook effektiewe projeklewering, gehandhaaf word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article