Wellignton
Die Wellington-polisie ondersoek ‘n moord wat in Hospitaalstraat plaasgevind het. Foto: Wellingtoners/ Facebook

Wat vermoedelik as ’n twis oor ’n gesteelde selfoon begin het, het Dinsdagaand (24 Februarie) in ’n dodelik steekvoorval in Wellington ontaard toe ’n man in sy dertigs in ’n oop veld in Hospitaalstraat aangetref is. Die slagoffer, slegs bekend as Elrick of “Loskop”, is kort daarna dood verklaar.

Dit is in dié stadium onbekend wat Elrick se van is.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, word ’n moordsaak ondersoek nadat die polisie met hul aankoms op die toneel glo vir hom met verskeie steekwonde aangetref het, waarna hy op die toneel dood verklaar is.

Die motief vir die aanval word nog ondersoek, het Barkhuizen verduidelik, en gesê daar is nog nie enige inhegtenisnemings gemaak nie.

Luidens ‘n bron wat vir Elrick geken het en in dieselfde buurt gewoon het, was hy ‘n aktiewe bendelid verbonde aan die Americansen Nommers-bende en is afkomstig van Wellington.

Die bron het verder verduidelik dat Elrick nie ‘n vaste woning gehad het nie en by verskeie mense tuisgegaan het, onder andere by die verdagte wat hom aangerand het se huis asook by verskeie ander plekke waar hy slaapplek en kos aangebied is.

Hy het glo die bynaam as “Loskop” gekry omdat hy “nie altyd gedink het voordat hy ‘n ding gedoen het nie”.

Die bron het ook gesê die verdagte is glo ‘n dwelmbaas in dieselfde gebied waar Elrick vermoedelik vermoor is.

Elrick is glo drie steekwonde aan sy bolyf, met ‘n onbekende skerp voorwerp, toegedoen, volgens die bron.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article