‘n Groep inwoners van die plaas Fraaigelegen naby die R301-Wemmershoekpad in die Paarl het Dinsdag (20 Januarie) buite die Paarl-landdros-hof, waar die saak om hulle by wyse van ‘n uitsettingsbevel van die grond te verwyder weer aangehoor is, vreedsaam betoog.
Paarl Post het verlede week berig dat die plaasbewoners uitsetting in die gesig staar te midde daarvan dat die grond, waar die nuwe Parelberg-winkelsentrum onlangs sy deure geopen het, vir kommersiële en residensiële ontwikkeling geoormerk is.
LEES: Groep bewoners by Fraaigelegen-plaas in die Paarl sê nee vir verskuiwing
Die koerant verstaan dat, ná verskeie pogings om met die bewoners te onderhandel en hulle van alternatiewe verblyf te voorsien, die grondeienaars toe om ‘n uitsettingsbevel aansoek gedoen het, wat tans in die Paarl-landdroshof aangehoor word.

Die Paarlse regsfirma Otto Theron Attorneys Inc., wat die grondeienaars verteenwoordig, het verlede week by navraag gesê die wonings is lank nie meer geskik vir menslike bewoning nie.
“Sommige het toegang tot elektrisiteit, maar geen lopende water binne die huise nie. Ander het geen toegang tot elektrisiteit nie en slegs beperkte toegang tot water.
“Geen van die wonings is aan ‘n formele munisipale watergedrewe rioolstelsel, vullisverwyderingsdiens of drinkwaterretikulasie gekoppel nie.
“Die wonings is vir baie jare nie deur die vorige eienaars onderhou nie en is in ‘n swak toestand.”
Die firma het dit duidelik gemaak dat selfs al slaag die eie- naar in die hofaansoek, alle inwoners (selfs dié wat geweier het om te ontruim) van alternatiewe behuising voorsien sal word.
“Alternatiewe verblyf word tans aan elke huishouding wat op die eiendom woon, voorsien, of is steeds onder aanbod by die bekende Mountain Ridge-behuisingsoord in die Paarl.
“Die huishoudings word voorsien van ‘n gedienste erf met ‘n nuutgeboude woning wat aan NHBRC-vereistes voldoen en wat in die naam van die hoof van die huishouding oorgedra sal word. Die grondeienaar finansier die koopprys, oordrag- en verskuiwingskoste,” sê die firma.

Angelique Stevens van die Fraaigelegen-inwonerskomitee het egter Dinsdag buite die hof volgehou dat die inwoners van huise met dieselfde grootte as hul plaashuise voorsien moet word.
Sy sê sou die aansoek slaag, gaan hulle “in armoede gedompel wees”.
“Ons gaan bo-op mekaar moet woon en slaap in daardie klein wonings wat hulle vir hierdie groot families wil gee.
“Die publiek moenie die fout maak om ons te vergelyk met mense wat groot salarisse verdien nie.
“Ons almal is afgelê toe die boerdery gestop het.
“Al wat ons mense ken, is die plaaslewe. Nou wil hulle ons daar in die dorp gaan plaas by wonings wat ons nie weet hoe ons dit gaan onderhou nie.”
Die Fraaigelegen-plaas het volgens Stevens tot in 2002 druiwe uitgevoer.
Sy vertel dat die boerdery- praktyke daardie jaar gestaak is en die meeste van die werkers afgelê is.
Die res is glo in die daaropvolgende drie jaar afgelê.
Planne om die grond vir kommersiële en residensiële doeleindes te ontwikkel, het glo reeds in 2013 begin.






You must be logged in to post a comment.