Die Wellington-polisie ondersoek 'n roekelose en nalatige dossier nadat 'n vrou onlangs deur 'n bakkie getref is in Blignautstraat. Foto: Argief
Die Wellington-polisie ondersoek ‘n roekelose en nalatige dossier nadat ‘n vrou onlangs deur ‘n bakkie getref is in Blignautstraat. Foto: Argief

Ten spyte van dokters se pogings om ‘n ma van Wellington se been te red, moes haar been ongelukkig verlede week geamputeer word.

Die 43-jarige vrou, wat in hierdie stadium nie geïdentifiseer word nie, is op 20 September in Blignautstraat in Wellington deur ‘n bakkie getref toe sy langs die pad gestaan het.

Kol. Hanelie Smith, ‘n woordvoerder vir die Wellington-polisie, het kort ná die ongeluk aan Paarl Post gesê: “Volgens ooggetuies het twee bakkies in Blignautstraat in ‘n suidelike rigting gery. Een bakkie wou regs draai, waarna die tweede bakkie in hom vasgery het. ‘n Volwasse vrou is in die proses omgery en ‘n geparkeerde kar is getref. Die bakkie het teen ‘n shack tot stilstand gekom.”

‘n Kennis na aan die vrou en haar familie het bevestig dat die bakkie haar van agter af getref het en dat sy nie die voertuig op haar sien afry het nie.

Diá ma van drie is kort ná die ongeluk van die Paarl-hospitaal na die Tygerberg-hospitaal se ortopediese afdeling oorgeplaas.

Volgens die kennis, wat nie by name genoem wil word nie, het hulle nog die hoop gehad dat die slagoffer se been sal herstel. Die slagoffer se regterbeen is egter erg onder die knie beseer.

Sy kon verlede week haar tone beweeg, maar dokters se bekommernis was die dooie weefsel en onvoldoende bloedtoevoer na die been.

Nou wag ‘n moeilike pad na herstel vir die slagoffer, met uitdagings wat sy nooit gedink het sy in die gesig sal moet staar nie.

“Sy het verlede Dinsdagnag (23 September) ‘n operasie ondergaan waar haar been toe geamputeer is.

“Duidelik het die Here ander planne vir haar, ten spyte van al ons gebede. Sy lyk baie positief, maar ja. Haar emosies ry maar nog wipplank; dit gaan op en af, wat ‘n mens kan verstaan. Dit is ‘n groot skok vir haar.

“Die dokter het gesê dit is nie haar bekkenbeen [wat gebreek is nie], maar haar linkerkanste heup wat seergekry het.

“Hulle gaan binnekort op haar heup opereer. Hulle gee nou eers kans dat die amputasie eers ‘n bietjie gesond raak voordat hulle haar liggaam weer met so ‘n groot operasie skok.”

Smith het voorheen bevestig dat die Wellington-polisie ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen het.

Die saak word nog ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article