Inwoners van die Paarlse middedorp was Saterdagoggend uit hul slaap geruk toe skote vroeg die oggend in Lady Greystraat geklap het naby Rembrandt Mall.
Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die skietvoorval omstreeks 02:30 in dié straat plaasgevind en ondersoek die Paarl-polisie ‘n saak van poging tot moord.
Twigg het verduidelik dat daar een slagoffer was, ‘n man wat in Lady Greystraat geloop het toe daar op hom geskiet is. Die man, wie se ouderdom onbekend is, is glo in die skouer geskiet en is na ‘n hospitaal geneem.
Twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 38 jaar oud is in hegtenis geneem en sal Maandag (29 September) in die Paarl-landdroshof verskyn.
Volgens ‘n betroubare bron wat in die omgewing naby Rembrandt Mall woon, het sy vroeg Saterdagoggend wakker geskrik en sowat agt geweerskote getel wat afgevuur is. Dit kon immers nie bevestig word nie.
Die motief van die skietery is onbekend. Hou Paarl Post dop vir meer oor hierdie storie.





