Kerk het plan vir toestand van Ou Hofstraat-begraafplaas in die Paarl

Huishoudelike vullis lê vandeesweek die Ou Hofstraat- begraafplaas in die Paarl vol. Foto: Rasaad Adams
Huishoudelike vullis lê vandeesweek die Ou Hofstraat- begraafplaas in die Paarl vol. Foto: Rasaad Adams

Die Holy Trinity-kerk in die Paarl sê hy oorweeg om kontak te probeer maak met die families wie se afgestorwe geliefdes by die Ou Hofstraat- begraafplaas in Paarl ter ruste gelê is, om ‘n aksieplan te bespreek te midde van die voortslepende vandalisering van dié begraafplaas.

Inwoners het vandeesweek weer op sosiale media gekla nadat huishoudelike rommel oor die begraafplaas heen gestrooi is en vanaf die Bergrivier Boulevard gesien kon word.

Paarl Post het in Junie verlede jaar berig oor die vandalisering van grafte en die omheining teen die Bergrivier wat gesteel is, en dit gevolglik maklik maak vir swerwers en misdadigers om die terrein te betree.

Die munisipaliteit het in daardie stadium gesê dat hy reeds in gesprek was met die kerk aan wie die begraafplaas behoort.

Volgens Vader Denver Heugh van die Holy Trinity-kerk, wat die begraafplaas besit en onderhou, het die kerk dié einste omheining al drie keer vervang.

Heugh sê die kerk moet jaarliks sowat R180 000 opdok vir die instandhouding van die begraafplaas – ‘n bedrag wat dikwels onbekostigbaar is vir die klein gemeente.

Hy sê voorts die grootste uitdaging is die haweloses wat feitlik in die begrafplaas woon en wie se aktiwiteite die terrein en grafte skade aandoen.

“Ons het al op verskeie geleenthede dit onder die munisipaliteit se aandag gebring. Hierdie mense maak vuur in die begraafplaas. Die omheining is al drie keer vervang. Die munisipale wetstoepassers het ‘n rol om te vervul deur die haweloses van die perseel te verwyder,” sê Heugh.

Volgens hom maak die kerk van ‘n diensverskaffer vir die instandhouding van die begraafplaas gebruik. Dit sluit die verwydering van rommel in.

“Hierdie diensverskaffer is veronderstel om vier keer ‘n maand werk daar te doen, maar nou moet hulle meer gereeld gaan omdat die onwettige vullisstorting nie ophou nie. Dit is dus ekstra uitgawes wat deur die kerk aangegaan word. Uitgawes wat ons nie kan bekostig nie.

“Ons vermoed dat dit dieselfde persoon is wat die rommel daar stort, want die inhoud (huishoudelike afval) is altyd dieselfde.”

Hy sê die kerk het al kwotasies gekry vir beter omheining om opgerig te word. Dit gaan egter sowat R770 000 kos, voeg hy by.

“Ons gemeente is eenvoudig te klein om oor die halfmiljoen in te samel.

“Ons gaan by die volgende kerkraadsvergadering ‘n beslissing maak oor of hierdie bestaande diensverskaffer se dienste verleng moet word, maar ons glo steeds die munisipaliteit het ‘n rol wat hy moet speel om te verseker dat hierdie onwettige vullisstorting end kry.

“Ons het al in ‘n stadium daaroor gepraat om kontak te maak met die familielede. Dis egter nie so eenvoudig nie. Baie van daardie grafte dateer terug na die laat 1800’s en vroeë 1900’s. Maar as dit beteken dat ons iets in die koerant moet publiseer om kontak met families te maak, is dit iets wat ons sal oorweeg.”


Die omheining aan die kant van die Bergrivier is volgends die kerk al drie keer vervang. Foto: Rasaad Adams
Die omheining aan die kant van die Bergrivier is volgens die kerk al drie keer vervang. Foto: Rasaad Adams

Wynand Els, Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende direkteur vir openbare veiligheid, het vandeesweek by navraag gesê as gevolg van die klagte sal die munisipaliteit se skoonmaakspanne geskeduleerde werk by die begraafplaas en die omliggende area uitvoer.

“Alhoewel die eienaar van die eiendom verantwoordelik is om veiligheid op die perseel te verseker, doen ons ’n beroep op die publiek om enige kriminele aktiwiteite of veiligheidskwessies by die polisie aan te meld. Die munisipaliteit sal bystand verleen soos benodig.

“In die belang van veiligheid kan die munisipaliteit, ingevolge die toepaslike verordening, die eienaar van ’n eiendom aanspreeklik hou om ’n heining op te rig,” verduidelik Els.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article