My F*k, Marelize! het Vrydagaand sy eerste vertoning in die Paarl by Minimax gehad. Van links Zandelle Meyer (sy vertolk die rol van Marelize Horn), Nichola Viviers (sy vertolk die rol van Wilmari Horn), die ware Marelize Horn, Heidi Horn (Marelize se ma), Wilmari Horn (suster) en Tiaan Horn (Marelize se pa). Foto: Jana Scheepers

PaarlPost het die geleentheid gekry om met die bekende Horn-gesin van Windhoek in Namibië oor die selfoonvideo wat in 2019 aanlyn verskyn en miljoene mense aan die lag gehad het en vanjaar in ‘n rolprent omgeskep is, te gesels.

Die rolprent My F*k, Marelize! is tot 11 September by Minimax in die Paarl te sien. Dit volg nadat Lyndon Jaftha, die eienaar van Paarl FM, ‘n paar toutjies getrek het deur die regisseur en rolprentvervaardigers van My F*k, Marelize! te kontak, wat toe ingestem het dat die rolprent in dié teater vertoon moet word.

Die oorspronklike video wys ‘n meisie wat met haar fiets reguit in ‘n rugbypaal vasry, terwyl haar ma onvergeetlik uitroep: “My f*k, Marelize!” Die eenvoudige oomblik het onmiddellik ‘n internet-sensasie geword, maar agter die humoristiese video skuil ‘n intieme gesinsverhaal.

Die Namibiese Horn-gesin, wat die rolprent geïnspireer het, word in die rolprent op ‘n hartroerende en humoristiese wyse uitgebeeld.

Die rolprent het (sover) ongeveer R1 miljoen by die filmloket ingebring en het die topplek in die Suid-Afrikaanse top 10 losgeslaan.

Volgens Marelize Horn moet sy haarself soggens knyp wanneer sy opstaaan. “Dit [die ervaring] voel soos ‘n droom.”

Volgens haar het die Horn-familie nooit gedink hierdie video sal “viral” versprei nie, maar was verbaas toe iemand haar laat weet dit het op News24 verskyn.

Sy vertel dat haar suster die video geneem het, waarna sy dit na verskeie WhatsApp-groepe gestuur het en dit toe wyd op sosiale media versprei is.

Die rolprent is nie net humoristies nie, maar beeld ook Heidi Horn, Marelize

en haar suster, Wilmari, se ma, se kankerstryd uit.

Op die vraag wat die Horn-gesin tydens hierdie hele ervaring geleer het, het almal saamgestem: “Daar is hoop”.

Volgens Tiaan Horn, die patriarg van die familie, “is die lewe vol hekke” en beteken hierdie “hekke” nie dat dit die einde van jou pad is nie, maar net dat dit ‘n struikelblok is wat oorkom moet word.

“Niks [in die lewe] is ‘n reg nie – dit is alles ‘n voorreg,” het hy bygevoeg.

Die vier akteurs wat die Horn-familie vertolk, sluit in Je-Ani Swiegelaar as Heidi, Neels Clasen as Tiaan, Nichola Viviers as Wilmari en Zandelle Meyer as Marelize.

My F*k, Marelize! se plakkaat. Foto: Silwerskermfees/ webtuiste

Meyer het ook ‘n Silwerskermtoekenning ontvang vir “Beste vroulike byspeler in ‘n speelfilm” vir haar rol.

Die regisseur van die rolprent, Zandré Coetzer, het in ‘n verklaring verduidelik dat die rolprent daarop gemik is om die Horn-gesin, soos hulle in die regte lewe is, uit te beeld. “Ons het elemente van vermaak ingesluit, maar altyd met die gesin se hart in gedagte. Die rolprent moes soos ‘n tuisvideo voel – eerlik en intiem. Ons het selfs by die kankerorganisasie waar Heidi [Marelize se ma] werklik behande-

ling ontvang het, geskiet om hul wêreld so getrou moontlik te weerspieël.”

Coetzer vertel verder sy en die draaiboekskrywer, Brett Michael Innes, wou al lankal saam werk.

“[Dis soos] mense wat belowe hulle gaan saam braai! Ons het besef dit is nou of nooit. Ons het Namibië toe gegaan om die Horns te ontmoet. Tiaan, Marelize se pa, het ‘n kroeg by sy huis en daar het ons stories gedeel. Ons het besef hierdie gesin is baie meer as net ‘n snaakse video – hulle is hartlik, liefdevol en herkenbaar.”

Coetzer sê: “Dit was die perfekte epic fail-oomblik, maar wat dit onvergeetlik gemaak het, was Heidi se rou, eerlike reaksie. Dit laat mense voel dis oukei om jouself te wees en jou foute te hê.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article