Die 2025 Suid-Afrikaanse (SA) Jongwynskou het vanjaar ‘n oesjaar van besonderse gehalte gevier, met kelders van oor die land heen wat hul merk gemaak het. Altesaam 1 387 inskrywings is deur 88 beoordelaars oor vyf dae geëvalueer, met 52 klaswenners en 131 goue medaljes wat toegeken is.
Die aand het aan die La Motte-wynlandgoed in Franschhoek behoort, wat die gesogte Genl. Smuts-trofee vir ‘n uitsonderlike Sémillon verower het. Dit is die eerste keer in dié landgoed se geskiedenis en slegs die tweede keer in meer as drie dekades dat ‘n Sémillon dié hoogste eer wegdra.

KWV het weer sy plek in die bedryf bevestig deur die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste puntetotaal vir vyf wyne te ontvang. Die wyn- en spiritualieëprodusent het die trofee ook in 2015 ontvang.
KWV het daarby ook drie nasionale kampioentrofeë ontvang, naamlik vir Sauvignon Blanc, Chardonnay (gehout), en ‘n Cabernet Sauvignon/Malbec/Petit Verdot-versnit (gehout). KWV se wenportefeulje is verder verryk deur klasoorwinnings in Malbec en Cabernet Franc, asook 18 goue medaljes.
“Om die Pietman Hugo-trofee te wen is ‘n ongelooflike prestasie vir KWV,” sê die hoofwynmaker, Justin Corran. “Om met hierdie gesogte toekenning erken te word vir ‘n oesjaar wat reeds besig is om een van die grootes te word, is ‘n groot eer.”
Volgens Kobus van der Merwe, KWV se witwynmaker, is dit ook die eerste keer dat KWV twee SA kampioen-witwyne verwerf het – met sy Chardonnay en Sauvignon Blanc.

Die Paarl-wynstreek het die meeste trofeë (ses) gewen, gevolg deur die Breedekloof/Worcester- en Stellenbosch- streke (vier elk), en die Robertson- en Klein-Karoo-streke en ‘n individuele inskrywing met een elk.
‘n Bekende kelder wat ‘n prys gewen het, is Pedeberg wat ‘n kampioentrofee vir sy Natural Sweet White (gehout) verower het.
“As The Home of Chenin Blanc is dit vir ons van besondere betekenis dat dit juis ‘n natuurlike soet, gehoute Chenin Blanc is wat die gesogte trofee verower het,” sê Albertus Louw, keldermeester van Perdeberg. Hy sê dié wyn is deel van die vroeë ontwikkelingsfase van Perdeberg se Dryland Collection-reeks.
Wellington Wines was nog ‘n uitblinker met sy Pinotage (gehout) wat ook ‘n trofee verower het.
Volgens die kelder se uitvoerende hoof, Francois van Niekerk, het Wellington Wines die SA Kampioen Pinotage reeds nege jaar in ‘n ry gewen. “Pinotage is regtig diep in die Wellington Terroir gewortel. Die kultivar (asook veral chenin blanc) presteer uitsonderlik goed hier en floreer met die volop sonlig.”
Die wynskou, wat in The Venue in Robertson aangebied is, bly ‘n anker vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die wenners van die Genl. Smuts- en Pietman Hugo-trofeë kan, danksy ‘n borgskap van Porex, ‘n internasionale studiereis van ses dae meemaak.
• Die wenners van ‘n SA Kampioen-trofee: Spier Wines – Chenin Blanc (gehout); Robertson Winery – Colombard (gehout); Badsberg Cellar – Chenin Blanc/Chardonnay (wit versnit); Groot Phesantekraal – NLH (gehout); Diemersdal – Shiraz (gehout); Montagu Winery – Merlot en Aan de Doorns Winery – Rooi Muskadel Jerepigo.





