Hy was ‘n gerespekteerde leier, ‘n ware heer en iemand wat die Drakenstein-gemeenskap met passie gedien het.
Dít was vandeesweek van die huldeblyke ná die afsterwe van Derick Damons, Drakenstein-munisipaliteit se voormalige brandweerhoof.
Die munisipaliteit het Damons se dood ná ‘n kort siekte verlede Saterdag (2 Augustus) in ‘n verklaring bevestig.
Damons het in 1997 by die munisipaliteit as ‘n assistent-brandweerhoof aangesluit, ‘n pos wat tans deur Dereck Peceur beklee word.
“Deur sy onwrikbare toewyding en integriteit is hy in 2004 tot hoofbrandweerbeampte bevorder – ‘n pos wat hy tot onlangs beklee het. Hy het ons gemeenskap vir 27 jaar met onderskeiding gedien.
“As ‘n lewenslange brandbestryder en gerespekteerde leier was hy bekend vir sy verbintenis tot die ontwikkeling van gedissiplineerde, goed-opgeleide brandweerpersoneel.
“Hy was ‘n vaderfiguur vir baie, ‘n man van stille krag, en ‘n toegewyde dienaar van sy kerk en gemeenskap,” het die munisipaliteit in sy verklaring gesê.
Volgens die munisipaliteit het Damons ook ‘n blywende nasionale bydrae gelewer deur sy rol in die brandweer-instituut se eksamenkomitee, waar hy gehelp het om die toekoms van die brandbestrydingsberoep te vorm.
“Ons salueer u, hoof Damons. U nalatenskap van diens, medemenslikheid en uitnemendheid sal nooit vergeet word nie.”
Wendy Kaizer-Philander, DA-LP in die Wes-Kaapse wetgewer en boorling van die Paarl, het ook hulde aan Damons gebring.
“Ek onthou hom as ‘n ware heer. Hy was passievol, bekwaam en iemand met ‘n diepgaande kennis.
“Hy het altyd die tyd geneem om te vra hoe dit met jou gaan, ongeag die omstandighede,” het Kaizer-Philander gesê
“Hoof Damons het uit die skool van diensbaarheid gekom. Hy was toegewy aan dienslewering, en het met stille krag en nederigheid gelei.
“Dit was ‘n eer en ‘n voorreg om saam met hom te werk, beide in ‘n amptelike hoedanigheid en as ‘n raadslid. Selfs buite die roep van plig het hy hartlik gebly en opreg omgegee vir ander,” het sy bygevoeg.
Sy het haar medelye aan sy kinders, die breër Damons-familie, asook die breër gemeenskap betuig.
Dereck Peceur, die huidige assistent-brandweerhoof, het vandeesweek gesê hulle twee ken mekaar al vir bykans 30 jaar.
“Ek het hom ontmoet as ‘n dosent by die destydse Kaapse Technicon toe ek daar gestudeer het. Ek het hom toe in ‘n ander hoedanigheid leer ken toe hy in 1997 by Drakenstein aangesluit het.
“Hy was ‘n baie trotse en selfversekerde man. Hy het geweet wat hy in die lewe wil hê en het doelgerig gelewe.
“Hy was ‘n perfeksionis en baie gedissiplineerd. Jy kon tyd hou met wat hy sou sê gaan gebeur, dan het dit so gebeur.
“Hy was iemand wat altyd opbouende kritiek gelewer het.
“Dit was net baie lekker om saam met hom te kon werk. Sy doelgerigte geaardheid was aansteeklik,” het Peceur gesê.
Volgens Peceur was Damons nou betrokke by die opleiding van Drakenstein se brandbestryders – ‘n verlies wat dus deur die hele brandweerstasie gevoel word.
“Sy afsterwe laat persoonlik by my ook ‘n leemte agter. Ons het nie net mekaar in ‘n professionele hoedanigheid geken nie, maar was ook vriende.” Damons se familie kon nie bereik word nie.





