DA in Drakenstein waarskynlik onkant betrap toe PA wyk wen, meen kenner

Veronica Boonzaaier van die PA is verlede week as wyk 27 (Amstelhof) se nuwe raadslid verkies. Foto: Rasaad Adams
Veronica Boonzaaier van die PA is verlede week as wyk 27 (Amstelhof) se nuwe raadslid verkies. Foto: Rasaad Adams

Die DA in Drakenstein is waarskynlik onkant betrap en het nie verwag dat hy ‘n nederlaag sou ervaar in ‘n wyk waarin sy eie voormalige burgemeester woon en wat die afgelope 15 jaar in DA-beheer was nie.

Só het dr. Harlan Cloete, ‘n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat se sentrum vir gender- en Afrika- studies, vandeesweek gesê nadat die Patriotic Alliance (PA) se Veronica Boonzaaier as raads-lid van wyk 27 (Amstelhof) in verlede Woensdag (24 Julie) se tussenverkiesing verkies is.

Cloete is ook een van die stigterslede van die Paarlse radiostasie KC 107.7.

Die tussenverkiesing het gevolg ná die afsterwe van die DA-raadslid Vanessa Booysen.

LEES: Drakenstein betreur afsterwe van DA-raadslid

Die PA het 988 stemme uit die altesaam 2 309 stemme ontvang, gevolg deur die DA met 914 stemme. Die ANC het 391 van die stemme ontvang en die Concerned Drakenstein Residents (CDR) 15 stemme.

PADAANCCDR
98891439115

Altesaam 353 van die ANC se stemme was by die Amstelhof Primêre Skool se stempunt, wat ‘n aanduiding gee van die groot steun wat dié party in daardie deel van Amstelhof geniet.

Volgens Cloete was ook hy onder die indruk dat die DA aan bewind sou bly.

“Ek was self verras. Hierdie is ‘n wyk waarin die voormalige DA-burgemeester Conrad Poole woon. Hy het nog altyd groot steun onder die meeste van die kiesers gehad, dus dink ek dit het as ‘n groot skok vir die DA gekom.

“My persoonlike gevoel is dat die DA waarskynlik te gerus geraak het. Hulle het waarskyn- lik gedink die wyk word nou al vir etlike jare deur die DA beheer en dat dit maklik sou wees om dit blou te hou.

“Ek dink dit was ‘n wake-up call en hulle gaan nou aansienlik harder moet baklei om nie meer wyke in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing te verloor nie,” sê Cloete.

Volgens hom sal dit nou ook die PA se strategie wees om die DA se steun in aanloop tot volgende jaar se verkiesing te verswak.

“Hoe meer wyke die PA volgende jaar by die DA kan afneem, hoe meer word die DA se posisie verswak.

“Die DA sal natuurlik sy meerderheid wil behou, dus dink ek hy gaan homself nou moet herontdek en ondersoek gaan instel van waar hy fouteer het om so vinnig so baie steun te verloor.

“Sy grooste verkoopspunt is dat hy ‘n gevestigde agtergrond van plaaslike regering het. Aan die kant van die PA sit hulle weer met ‘n baie charismatiese leier. Die mense hou vreeslik baie van Gayton [McKenzie]. Ek dink volgende jaar gaan ‘n baie interessante

plaaslikeregeringsverkiesing wees. Ons kan nie uitsluit dat ons dalk met ‘n koalisieregering in Drakenstein gaan eindig nie,” sê Cloete.

Gillion Bosman, die DA se kiesafdelingshoof in Drakenstein, het by navraag aan Paarl Post gesê “die DA in Drakenstein is ten spyte van die terugslag in wyk 27 steeds vasberade om dienste aan al die inwoners van Drakenstein te lewer”.

“Ons is trots op die werk van ons kandidaat, Shaleen Solomons. Ons sal saam met haar span aktiviste steeds op die grond en in die gemeenskap wees om die mense van Amstelhof te bly ondersteun.

“As die regerende party in Drakenstein en die distrik bly ons toegewyd aan diensuitnemendheid,” sê Bosman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article