Magrieta Jacobs Foto: Rasaad Adams

Altesaam 10 huisgesinne op die plaas Limietrivier buite Wellington is deel van 14 plase in Drakenstein waar bewoners – sommige vir langer as 10 jaar – sonder krag, water en sanitasiegeriewe lewe.

In die geval van Limietrivier beweer inwoners dat hul krag en water in 2015 deur die plaas- eienaar ontkoppel is en hulle sedertdien water uit ‘n nabye rivier vir huishoudelike gebruik moet kry.

Paarl Post het verlede week berig dat die Drakenstein-munisipale raad op Vrydag 27 Junie eenparig gestem het om drigende humanitêre hulp by Limiet- rivier en Leeurivier, ook buite Wellington, te verleen.

LEES: Bewoners op minstens 14 plase ‘aan eie genade oorgelaat’, Drakenstein tree in

Volgens die burgemeester, Stephen Korabie, val dié plase onder altesaam 14 in die Drakenstein- munisipale gebied waar bewoners sonder enige water, elekrisiteit en ander basiese dienste deur plaaseienaars “gestrand gelaat is”.

Korabie het gesê hy het Limietrivier en Leeurivier sedertdien besoek.

“Dit is ‘n groeiende humani- têre krisis. Daar is kwesbare individue, vroue en kinders. Die mense sit sonder water, elektrisiteit en sanitasiegeriewe.

Voedselsekerheid is ook ter sprake, omdat hulle sonder werk sit.

“Ons onmiddelike reaksie was om die bewoners van basiese [munisipale] dienste te voor- sien. Verskeie departemente in die provinsie sal ook betrokke moet raak.”

Hy het gesê ondersoek sal deur die betrokke departement ingestel word om te bepaal wie die plaaseienaars is.

Die Drakenstein-munisipaliteit het onlangs ‘n tenk met skoon drinkwater by die plaas opgerig. Foto: Rasaad Adams

Liezel van Wyk, ‘n opvoeder wat op Limietrivier gebore is, het verlede week tydens Paarl Post se besoek aan die plaas gesê die meeste van die werkers

is glo afgelê kort nadat die aanvanklike plaasboer gesterf en sy dogter en haar man die plaas oorgeneem het.

Volgens haar is die gesinne in ‘n stadium elk R15  000 aangebied om vir hulself elders strukture op te rig.

“Almal het eenparig geweier om hierdie aanbod te aanvaar. Arbeidsverhore is gehou nadat die werkers afgelê is.

“Die oorlede boer se dogter en haar man het toe ‘n deel van die plaas, waarop ons woon, verkoop en die twee het toe in die dorp [Wellington] gaan woon.

“Ons het toe kragbokse ontvang en kon krag by die nuwe eienaars koop. Alles het egter skielik net in 2015 platgeval en ons sit tot vandag toe sonder krag en water,” het Van Wyk vertel.

Nog ‘n plaasbewoner, Magrieta Jacobs, het vertel dat die Drakenstein-munisipaliteit in ‘n stadium gedurende die Covid-19-pandemie ‘n watertenk kom oprig het.

Die munisipaliteit het volgens haar toe skielik net opgehou om die tenk met skoon drinkwater te vul. “Dit het die afgelope 10 jaar maar ons nuwe normaal geraak.

“Die kinders van 10 jaar en jonger ken nie elektrisiteit en tegnologie nie. Hulle word by die skool gespot omdat hulle skoolklere na rook ruik.

“Hoe is dit, in vandag se lewe, normaal vir mense om uit riviere uit te lewe?

“Ons plekke val uitmekaar want ons het nie werk om dit in stand te hou nie. Ons kan nie eens meer die toilette gebruik nie – nie net omdat ons nie lopende water het nie, maar omdat dit oor die jare gebreek het,” het Jacobs gesê.

Magrieta Jacobs staan hier voor haar plaashuis by Limietrivier. Langs haar is alle die emmers wat die afgelope 10 jaar gebruik om water uit 'n rivier op by die naburige plase te gaan haal. Foto: Rasaad Adams
Magrieta Jacobs staan hier voor haar plaashuis by Limietrivier. Langs haar is alle die emmers wat die afgelope 10 jaar gebruik om water uit ‘n rivier op by die naburige plase te gaan haal. Foto: Rasaad Adams

Paarl Post het daarin geslaag om Conrad Verhagen, die eggenoot van die vrou wat Limietrivier by haar oorlede pa geërf het, op te spoor.

Volgens Verhagen is die werkers nie destyds afgedank nie, maar hulle het op ‘n ander plaas in die omgewing gaan werk.

“Ons het aan die einde van die dag sonder enige werkers gesit. Die plaas was byna bankrot. Slegs een werker wat tans nog op die plaas woon, werk nog vir ons.

“Vandag wei ons met slegs ‘n paar beeste.

“Hulle kon eenvoudig nie verwag om steeds dieselfde dienste en voordele te geniet as hulle nie meer vir ons werk nie,” het Verhagen gesê.

Volgens hom het munisipale amptenare hom verlede week in kennis gestel oor die munisipale intervensie.

Verhagen is onder meer opdrag gegee om die watertenk, wat onlangs deur die munisipaliteit daar opgerig is, gereeld met skoon drinkbare water te vul.

Hy is glo aangesê dat hy tot R2 500 beboet kan word as hy dit nie doen nie.

Hy sê dit lyk asof die munisipaliteit die deel waarop die huise geleë is, wil onteien om sodoende munispale dienste aan die bewoners te kan voorsien.

Verhagen sê voorts hy beplan om eersdaags regsadvies oor die jongste verwikkelinge in te win.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article