Die Paarlse musikant en akteur Rodney (ROTAS) Goliath het een van die prominente rolle in ‘n nuwe Showmax-fliek, Finding Optel, wat op 21 Augutus by kykNET se immergewilde Silwerskermfees gaan première, losgelaan.
Uit die lokprent kan afgelei word dat Goliath, met die verhoognaam ROTAS, die hoofkarakter, Claire Abrahams, ‘n 16-jarige amateurspeurder, vergesel om hul buurt se geliefde hond, Optel, op te spoor.
Mikayla Brown vertolk Claire se rol.
Die fliek, waarin Claire en Rotas vasbeslote is om Optel te vind, het Afrikaanse raakpunte met die bekende Finding Nemo-fliek.
Die soektog krap onverwags ou wonde oop wanneer Claire op leidrade afkom wat met haar ouer broer, Jonah, se verdwyning verband hou. Hy word al nege jaar lank vermis.
Goliath het vandeesweek aan Paarl Post verklap dis ‘n fliek wat gewis nie misgeloop moet word nie.
“Dis ‘n gesinsfliek. Flieks hoef nie altyd te gaan oor geweld waar vuurwapens, messe en skollietaal betrokke is nie.
“Almal kan dit kyk. En dis ons mense, man. Dis ons stories. Ek raai mense dus aan om daardie Showmax-intekening te kry – nie net om my te ondersteun nie, maar almal wat by die fliek betrokke was.”

Goliath is geen vreemdeling op die TV-skerms nie.
Hy was ook te sien in Arendsvlei, wat op 27 Junie verlede jaar sy laaste episode uitgesaai het.
Tussen alles werk hy ook aan sy musiekloopbaan, waar sy roem in die bedryf eintlik begin het toe hy in 2020 aan kykNET se Maak My Famous- musiekkompetisie deelgeneem het.
Toe die koerant hom vandeesweek vra watter van die twee (musiek of die rolprentbedryf) met die meeste uitdagings kom, het hy gesê “gewis toneelspel”.
“Dit vat vreeslik baie van ‘n mens se tyd. Dis soms uitdagend om die karakter akkuraat uit te beeld. Met musiek werk jy volgens jou eie tyd. Jy skryf oor hoe jy voel en die uitdagings wat jy in die samelewing en jou gemeenskap waarneem.
“Maar ek hoop om binnekort ‘n meer standvastige rol op die kassie los te slaan. Ek glo ek beskik oor die vermoë om ‘n balans tussen musiek en toneel te handhaaf. Ek is lief vir albei.”
Goliath stel Vrydag (11 Julie) ‘n splinternuwe enkelsnit, “Vergewe My“, op alle digitale musiekplatforms vry.
“Dis ‘n lekker danstreffertjie, maar ek is ook heavy op vergifnis daarin. As iemand wat onlangs baie geliefdes verloor het, is vergifnis vir my ‘n belangrike ding.
“Mense sal maar moet besluit of hulle wil dans of huil. Ek het ‘n kort uittreksel van die liedjie uitgesit en dit het sover sulke mooi getuienisse ontlok van mense wat op die veranderingspad is,” het hy oor die nuwe enkelsnit gesê.

Finding Optel is vervaardig deur Blended Films in samewerking met Showmax.
Bekendes soos Maurice Paige, Oscar Petersen en Zenobia Kloppers is ook in die fliek te sien.




You must be logged in to post a comment.