Die asbesdak waardeur die man tot sy dood geval het.
Die asbesdak waardeur die man tot sy dood geval het.

Die Wellington-polisie ondersoek die omstandighede van ‘n fratsongeluk in die middedorp die afgelope Saterdag (31 Mei) toe ‘n 32-jarige man wat ‘n vermeende dief agternagesit het, deur ‘n asbesdak tot sy dood geval het.

Die voorval het omstreeks 16:00 by ‘n onderneming in Stokeryweg plaasgevind, het kol. Johan Barkhuizen, ‘n woordvoerder van die Wellington-polisie, by navraag gesê.

“Die oorledene het na bewering die booswig op die dak van ‘n gebou gejaag en deur die dak geval. Hy is op die toneel dood verklaar,” sê Barkhuizen.

“Dit is in hierdie stadium onbekend wie die vermeende dief was of wat hy gesteel het.

“Die polisie het ‘n nadoodse ondersoek geopen.”

‘n Betroubare bron wat ook op die toneel was, het by verdere navraag aan Paarl Post gesê die oorledene het blykbaar die vermeende dief op die dak gewaar en ‘n leer by een van die ondernemings in die omgewing gaan leen om hom agterna te sit.

Nadat die man deur die dak geval het, het die vermeende dief afgespring en in die rigting van die treinspoor gehardloop.

Die plaaslike ambulansdienste was vinnig op die toneel, maar ongelukkig was die man met hul aankoms reeds oorlede, vertel die bron.

Volgens die bron is ‘n plaaslike dominee ingeroep om die man se vrou en sy twee dogtertjies te ondersteun.

“Dis ‘n baie slegte voorval. Hy wou net help,” sê die bron.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article