PAARL – Die bekende Kaapse dokter dr. Sassa Botha, wat diep wortels in die Paarl het, is verlede Vrydag (17 April) op 72-jarige ouderdom in Vredehoek oorlede ná ‘n uitdagende kankestryd.
Volgens Monique Ziervogel, dogter van Botha, is sy “04:55 Vrydagoggend” oorlede, met haar kinders, Jean-Pierre Ziervogel en Monique, en haar eggenoot, Emile Kruger, by haar sy. “Kort daarna het die storms gekom en harde reën gebring… ek sê die natuur het saam met ons gehuil,” het Monique gesê.
Botha se geboortenaam was Jane Elizabeth Christie, maar haar bynaam was “Sassa” nadat haar ouer broer, Dawie, haar “Skilpad’”of ‘”Skillie” genoem het waarna sy Saskia geword en toe uiteindelik as Sassa bekengestaan het.
Hoewel sy later in Kaapstad gewoon en gewerk het en verbonde was aan Tygerberg- en Groote Schuur-hospitaal, het Botha se storie in die Paarl begin. Sy het aan die Hoër Meisieskool La Rochelle gematrikuleer, terwyl haar kinders ook in die Paarl op skool was en hul vormingsjare hier deurgebring het.
Jean-Pierre het skoolgegaan by die Hoër Jongenskool Paarl, maar het uiteindelik aan die DF Akademie gematrikuleer, terwyl Monique aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer het.
Monique vertel haar ma het as algemene praktisyn begin werk en later in gastroënterologie gespesialiseer het, met ’n meestersgraad wat sy eers op 63-jarige ouderdom behaal het. “My ma was ’n besige vroutjie,” het sy vertel.

Botha het uit ’n bekende Paarlse familie gekom. Haar pa, David Botha, was ’n gerespekteerde plaaslike kunstenaar wat veral vir sy kenmerkende “nat straat”-skilderye bekend was en dikwels as die “skilder in die reën” beskryf is.
Hy en sy vrou, Jane wat ’n Skot was, het op Kleinplaas teen die berg gewoon, waar Botha en haar broer ook grootgeword het.
Haar ma het ook haar huis in die dorp as ’n kunsgalery vir minderbevoorregte kunstenaars oopgestel. Hulle was kleurvolle mense en baie lief vir onthaal, het Ziervogel gesê.
Botha se pa is in Augustus 1995 op die ouderdom van 74 oorlede terwyl haar ma in 2014 op die ouderdom van 84 haar laaste asem uitgeblaas het.
Volgens Monique, het haar ma “vele stryde” in haar lewe gehad.
As skooldogter is sy met skoliose gediagnoseer en het sy ’n groot rugoperasie in graad 11 ondergaan wat haar vir ses maande aan die bed gekluister het, en waarna sy weer moes leer loop. Later, in haar 40s, het sy borskanker oorwin, terwyl sy in Augustus 2023 met ongeneesbare fase 4-kolonkanker gediagnoseer is.

Botha is in ‘n agterkamer van ’n winkel in Onrus gebore terwyl haar ouers gaan kamp het. Haar ma het drie weke te vroeg in kraam gegaan.
Botha se kinders woon tans in Londen, waar Jean-Pierre in die wynbedryf werk en Monique as hoof-sommelier by die bekroonde Spring restaurant in Somerset House in Londen werksaam is.
Die sibbe het op 18 Februarie na Suid-Afrika gereis om hul ma in haar laaste maande by te staan.
“Dit was die mees kosbare en pynlike tyd van ons lewens,” het Monique vertel.
’n Viering van Botha se lewe sal op 3 Mei op ’n wynplaas gehou word waar vriende en familie ‘n glasie vonkelwyn op haar sal klink.
“Twaalfuur, wanneer die noon gun afgaan, was altyd vir haar borreltyd.”





