Ouers, onderwysers soek betonmure, kameras by kwesbare Worcester-skool

Maandag (26 Oktober) was daar ‘n sterk polisieteenwoordigheid by Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester. Foto: Enrico Claassen

Ouers, onderwysers soek betonmure, kameras by kwesbare Worcester-skool

Maandag (26 Oktober) was daar ‘n sterk polisieteenwoordigheid by Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester. Foto: Enrico Claassen

WORCESTER: ’n Geëlektrifiseerde beton-omheining, veilige toegangshekke en hoë maspale wat met kringtelevisiekameras toegerus is.

Dit is die versoek wat gegriefde ouers en personeel van Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester en ander belanghebbendes gerig het toe hulle op 26 Oktober ’n versoekskrif aan die waarnemende direkteur van die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor, Gregory Kannemeyer, oorhandig het.

In die versoekskrif vra hulle vir die doeltreffende beveiliging van die skoolterrein.

Maandag (26 Oktober) se versoekskrif kom nadat strydende bendes op 15 en 20 Oktober 2026 op die skoolterrein slaags geraak het.

In die mees onlangse geval het ‘n gr. 9-leerder verbonde aan die skool en bendelede met wie hy glo bande het onderwysers en die hoof met die dood gedreig en hulle met klippe bestook.

In die versoekskrif sê die gegriefdes onder meer dat bendes die skool tans gebruik as ’n plek waar hulle hul gebiedstryd voer.

“Dit lei daartoe dat daar gereeld gevegte tussen bendelede op die skoolterrein plaasvind.

“Baiekeer word die gevegte met vuurwapens en ander wapens gevoer, wat die kanse vergroot dat een van die leerders of die personeel in die spervuur kan beland wat tot ernstige beserings of selfs die dood van ons leerders of personeel kan lei.

“Wanneer hierdie gevegte uitbreek, veroorsaak dit algehele chaos by die skool en gevolglik gaan kosbare onderrigtyd verlore.”

Luidens die versoekskrif het hierdie gevegte ’n massiewe emosionele impak op leerders sowel as die personeel.

“Talle leerders en personeellede word so erg deur hierdie gevegte getraumatiseer dat hulle hul aan die akademie en ander skool-aktiwiteite onttrek of kan bloot nie meer konsentreer en hul beste gee nie weens die vrees dat hulle dalk ‘n slagoffer van hierdie gevegte kan raak.”

Hoërskool Breërivier
Ignelda February, ‘n lid van die gemeenskap, lees die versoekskrif voor aan Gregory Kannemeyer.

Luidens die versoekskrif maak die gebrek aan ‘n omheining dit maklik vir ongemagtigdes, onder wie vandale en misdadigers, om die skoolterrein te betree.

Dit lui dat die gebrek aan ’n omheining die veiligheid van almal op die skoolterrein bedreig.

Voorts is die skool-eiendom en -infrastruktuur gereeld oor naweke en skoolvakansies die teiken van diefstal en vandalisme, wat die skool groot finansiële skade berokken.

Die versoekskrif lui voorts daar is gedurig skape, bokke en loslopende honde op die skoolterrein wat ’n potensiële gevaar vir almal se veiligheid en gesondheid inhou.

Gister (26 Oktober) was daar ’n sterk polisieteenwoordigheid by die skool. Dit kom nadat ontevrede ouers Vrydag (23 Oktober) die Villiersdorp-pad wat verby die skool loop, geblokkeer het.

LEES OOK: Kommer oor gesteelde heining na ‘bende’ toegang kry tot skoolterrein

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article