WELLINGTON – Die voormalige polisiespeurder Wayne Wantza het vandag (16 Maart ) in die landdroshof in Wellington verskyn waar dit aan die lig gekom het dat hy na die Valkenberg-hospitaal in Kaapstad verwys sal word.
Volgens die staatsaanklaer het Paarl-hospitaal se psigiater, dr. Charl Prinsloo, dit wenslik gevind dat hy deur hiérdie psigiatriese hospitaal geëvalueer word.
Wantza is op 24 Februarie by Paarl-hospitaal geëvalueer nadat hy op 4 Februarie in die hof verskyn het.
Volgens die staatsaanklaer is hy op die waglys geplaas en sal hy waarskynlik binne die volgende ses tot agt maande plek in Valkenberg toegeken word. Tot dan bly Wantza in aanhouding.
Sy volgende verskyning is op 16 April om vas te stel waar dié proses staan.
Wantza het na bewering op 26 Julie 2025 verskeie skote in Schoongezichtstraat, Wellington, afgevuur waarin sy eksmeisie, Elzaan Gallant, ernstig gewond is en haar nuwe kêrel, Petrus Jacobs (49), dood is.

Gallant is glo sewe keer deur Wantza geskiet, vyf keer in haar bors en een keer in elke arm, terwyl Jacobs weens een koeël in die bors gesterf het met die koeël wat glo regdeur sy ruggraat is.
Wantza word aangekla van moord met voorbedagte rade sowel as poging tot moord. Hy is ‘n paar uur ná die noodlottige skietery in Moorreesburg in hegtenis geneem nadat hy glo ná die voorval van die toneel gevlug het.
Volgens berigte het die skietvoorval weens ‘n beweerde liefdesdriehoek ontstaan.
Paarl Post het vroeër berig dat Wantza op die dag van die voorval by ‘n woning in Wellington opgedaag en Gallant, met wie hy voorheen ‘n verhouding gehad het, genader het, voor hy op haar en Jacobs losgebrand het.

Wantza het sy persoonlike wapen, ‘n 9 mm-Glock-pistool, gebruik om op Jacobs, Gallant en ‘n derde slagoffer, haar vriendin, te skiet. Gallant is glo van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte.
In ‘n vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Wantza as speurder ernstige en gewelddadige misdade, insluitend bendeverwante sake, ondersoek het.
LEES: Polisiespeurder verwys vir psigiatriese waarneming
Hy was ‘n sersant en verbonde aan die Kleinvlei-polisiekantoor en volgens die klagstaat het hy ook in Kleinvlei gewoon. Die oorlede Jacobs, oorspronklik van die Paarl, het by Metrorail in die Paarl gewerk.
Kapt. FC van Wyk, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse-polisie het bevestig dat Wantza nie meer ‘n Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD)-lid is nie en dat hy voor sy dissiplinêre proses uit die SAPD bedank het.





