KAAPSTAD – Huldeblyke stroom vanuit alle oorde in ná die dood van Diana Ferrus (72), bekroonde digter en aktivis, Vrydag (30 Januarie). Ferrus, ‘n inwoner van Kuilsrivier, was in versorging nadat sy op Kersdag verlede jaar ‘n beroerte gehad het.
Laniëlle Hartzenberg, ‘n familielid, het Ferrus se afsterwe in ‘n verklaring bevestig.
“Dr. Ferrus was meer as ‘n openbare figuur – sy was ‘n geliefde familielid, mentor en ‘n leidende lig,” het Hartzenberg gesê. “Haar nalatenskap sal voortleef deur haar werk, haar stem en die ontelbare mense wat sy oor generasies en grense heen geïnspireer het.”
Hartzenberg het gevra dat die familie in hierdie tyd van rou in gebed opgedra word en dat die publiek en media hul privaatheid sal respekteer.
LEES OOK: Suid-Afrikaanse literêre reus Diana Ferrus (72) oorlede
Ferrus is veral bekend vir haar gedig, A Poem for Sarah Baartman, wat ‘n groot rol daarin gespeel het om die Franse regering te oortuig om Saartjie, ‘n Khoi-vrou wie se oorskot deel van ‘n museum-uitstalling was, in 2002 na Suid-Afrika terug te bring.
“Jou pen was nie net ink nie. Dit was bloed. Dit was trane. Dit was balsem. Jy het die verlore nasie se wonde benoem, aangeraak, gesuiwer. En in daardie aanraking het jy vir ons gesê: ‘Julle verlatenheid is ’n leuen. Kyk hoe verbind ons is in hierdie pyn. Kyk hoe helder ons kan skyn as ons mekaar se stories dra’,” skryf Magnus de Jongh in sy huldeblyk aanlyn.
“In jou Afrikaans en Engels het jy die taal van geregtigheid gepraat, van genesing, van liefde vir die land en sy mense. Rus sag, Lady Di. Jou woorde bly leef – in boeke, in harte, in die wind oor die Wes-Kaap. Dankie dat jy ons kom huis toe gebring het,” skryf Jean Oosthuizen.
LEES OOK: Digter, skrywer en aktivis Diana Ferrus glo wette moet vroue beskerm

Ander bemagtig
Prof. Robert Balfour, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het gesê Ferrus het as alumna en personeellid van UWK talle studente en jong skrywers gementor en gehelp dat stemme uit gemarginaliseerde gemeenskappe gehoor word.
“Deur in beide Engels en in Afrikaans te skryf het sy kulture oorbrug en die diepte en skoonheid van ons meertalige erfenis bevestig. Haar toewyding teenoor jong skrywers, vroue-digters en gemeenskaplike storievertelling spreek van haar lewenslange geloof in die krag van woorde om te genees en te bemagtig,”
Ferrus het verskeie eerbewyse en toekennings ontvang, waaronder ‘n eredoktorsgraad in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch in 2022 omdat sy haar skryfwerk en poësie gebruik het om op te voed en te bemagtig, haar aan die ontwikkeling van ‘n nuwe geslag skrywers toegewy en vir ander geleenthede geskep het.
In 2020 het haar geboortedorp, Worcester, haar met die “Vryheid tot die dorp” vereer.
LEES OOK: Digter, skrywer en aktivis van Kuilsrivier, Diana Ferrus, vereer by Fiestas
Moederlike figuur
Ferrus word deur baie wat haar pad gekruis het as ‘n ma-figuur, toeganklik en terselfdertyd sterk en sag, onthou.
“Sy kon haarself ‘n ikoon genoem het, sy het nooit…
“Sy kon haarself die godmother genoem het maar, sy het nooit…
“Sy kon haarself doktor genoem het, maar sy het nooit…
“Sy kon haarself die belangrikste stem van haar tyd genoem het, maar sy het nie…
“sy was egter alles en baie meer as al daardie titels saam vir diegene op wie se lewens sy impak gemaak het…” skryf Frazer Barry.
Versoek vir staatsbegrafnis
Op sosiale media het talle hulle geskaar by ‘n oproep aan die regering om Ferrus met ‘n staatsbegrafnis te vereer.
Sumayyah Petersen Campher skryf: “Dr. Ferrus was ’n monumentale figuur in kuns en kultuur – ’n digter, akademikus en kulturele aktivis wie se werk die nasionale bewussyn herskep en die verloop van internasionale geskiedenis verander het.
“Deur haar poësie en haar onvermoeide voorspraak het sy ’n deurslaggewende rol gespeel in die repatriasie van Saartjie Baartman, waardeur sy nie net die waardigheid van een vrou herstel het nie, maar dié van ’n hele volk en van Suid-Afrika se kulturele geheue.
“Haar bydrae was nie simbolies nie – dit was transformerend. Sy het kuns as geregtigheid gebruik, taal as weerstand, en kultuur as ’n brug tussen Suid-Afrika en die wêreld. Min mense het die las van geskiedenis met soveel grasie, moed en impak gedra.”
Skok
Ferrus was sedert 8 Januarie in die Tygerberg-hospies se intermediêre versorgingseenheid wat op die perseel van die Karl Bremer-hospitaal in Bellville geleë is.
Hartzenberg het voorheen gesê dat die beroerte aansienlike skade aan Ferrus se regterbrein veroorsaak het, wat die linkerkant van haar liggaam beïnvloed het.
Ferrus se afsterwe het as ‘n skok vir baie gekom. Sy het in rehabilitasie “elke week klein maar betekenisvolle verbeterings gewys” het Hartzenberg op Vrydag 23 Januarie berig.






You must be logged in to post a comment.