Weslander

Oorskot op plaas was wel dié van vermiste Romano Fredericks

Gemeenskapslede het bymekaargekom om bewusmaking te skep oor Romano Fredericks se verdwyning.
Gemeenskapslede het bymekaargekom om bewusmaking te skep oor Romano Fredericks se verdwyning.

Die uitslag van forensiese toetse kan ten einde laaste die raaisel rakende die verdwyning van Romano Fredericks (19) beëindig. Dit was wel sy oorskot wat op Donderdag 3 April vanjaar op ‘n plaas langs die Vredenburg-Velddrifpad gevind is.

Met dié nuwe verwikkelinge wat vandeesweek aan die lig gekom het, kan Fredericks se familie soort van rus vind. Fredericks, ‘n inwoner van Yskor, was sedert Saterdag 3 Augustus 2024 vermis. Die menslike oorskot is agt maande later ontdek.

Wyle Romano Fredericks.
Wyle Romano Fredericks.

Anna Fredericks, Romano se ouma, het destyds aan Weslander vertel haar kleinseun word vermis nadat hy die huis verlaat het om by ‘n vriendin in Velddrif te gaan kuier.

Sy het benadruk dat Romano glad nie ‘n kind was wat rondgeloop het nie. Hy het altyd teruggekeer huis toe. Sy het aan Weslander vertel dat sy al hoe meer bekommerd geraak het soos dit later in die aand geword het en hy nog nie teruggekeer het nie.

Soos berig in “Ouma rig pleidooi vir vermiste kleinseun se veilige tuiskoms” (Weslander, Woensdag 7 Augustus 2025), het Anna gesien hoe die tyd aanloop en daar nog geen teken van Romano was nie.
“Ons het toe hospitale gebel en die polisiekantoor om te hoor of hy nie dalk daar is nie, maar hulle het gesê daar was nie so iemand daar nie.”

Talle mense in die gemeenskap het in Augustus vanjaar byeengekom en vir Romano gebid.
Talle mense in die gemeenskap het in Augustus vanjaar byeengekom en vir Romano gebid.

Fredericks sê sy het in kontak gekom met die vriendin by wie Romano in Velddrif gaan kuier het en hulle het aan die familie gesê Romano het terug geryloop.

Wat vir die familie nog meer hartverskeurend was, is die feit dat Romano nie sy matriekafskeid op Donderdag 8 Augustus verlede jaar bygewoon het nie. “Alles was gereël en reg en ons moes die oproep maak om die eetgoed te kanselleer. Dit was nie ‘n lekker gevoel nie en nie ‘n lekker gevoel dat hy so ‘n groot oomblik in sy lewe misgeloop het nie,” het Anna vertel.

Nuus van Romano se verdwyning het diep kommer by inwoners gelaat. Daar is selfs ‘n maand ná sy verdwyning ‘n gebedsaand vir dié jong man gehou. Kerse is deur die loop van die aand aangesteek, wat ‘n teken van hoop gesimboliseer en bevestig het dat die breë gemeenskap alles in hul vermoë sal doen om hom weer veilig huis toe te bring. Talle ander bidstaptogte het gevolg.

Die familie weet nog nie presies wat gebeur het nie, maar vind ‘n bietjie vertroosting in die feit dat hulle Romano nou kan huis toe bring en ter ruste lê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article