onwettge handelaars
Informele handelaars sonder permitte is steeds te sien in Lady Greystraat.

PAARL – Ongelukkigheid oor onwettige informele handelaars wat steeds in Lady Greystraat in die Paarl goedere blyk te verkoop, heers onder ander wettige handelaars wat die munisipale verordeninge handhaaf deur nie sake sonder die geldige permitte te doen nie.

Volgens een van die handelaars wat namens ‘n groep praat, is hulle ongelukkig oor die feit dat hulle die wettige prosedures handhaaf deur goedere op die toegekende spasies met permitte te verkoop, terwyl ander die verordenige verontagsaam.

Die handelaar vertel dat onwettige handelaars gereeld deur Drakenstein-munisipaliteit (DM) se wetstoepassers verwyder word, maar hulle keer onmiddelik terug.

Volgens Seraj Johaar, die DM se direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die DM verskeie gebiede in die Paarl en elders in Drakenstein geïdentifiseer wat moontlik vir informele handel geoormerk kan word.

Die toekenning van dié gebiede is onderhewig aan ‘n openbare deelnameproses wat tans aan die gang is, sê Johaar, en voeg by dat die DM onder meer 12 ruimtes in Lady Greystraat geïdentifiseer het wat moontlik vir informele handelaars beskikbaar gestel sal word.

“Intussen doen die munisipaliteit se wetstoepassingsbeamptes daagliks voetpatrollies in die Paarl se sentrale sakekern om oortreders van munisipale verordeninge te vervolg ingevolge die prosedures soos in die Verordening op Informele Handel uiteengesit. Die wetstoepassers gee die informele handelaars wat nie oor die nodige permitte beskik nie opdrag om die gebied te verlaat. As hulle nie hieraan gehoor gee nie, word hulle beboet en die beamptes konfiskeer die betrokke handelaars se produkte.”

Johaar het erken dat oortreders dikwels terugkeer ondanks optrede deur wetstoepassers. “Ons [die DM] werk dus saam met die Paarl Informal Traders Association om oplossings [hiervoor] te vind. Een voorstel is om voltydse veiligheidswagte aan te stel wat by brandpunte soos Lady Greystraat ontplooi kan word. Die munisipaliteit beoog ook om sake-eienaars aan te moedig om veiligheidswagte aan te stel.”

LEES OOK: Informele handelaars skik met Drakenstein-munisipaliteit

Daar het in Maart 2025 ‘n onderonsie tussen die wettige en onwettige informele handelaars en die DM ontstaan na ‘n optrede op 24  Maart uitgevoer is om álle informele handelaars in Lady Greystraat straat te verwyder en na onder meer Patriotplein en die taxistaanplek in Bergrivierboulevard te skuif. Hierdie skuif is egter nie bewerkstellig nie.

Dit is nie die eerste keer dat die munisipaliteit en die Paarlse informele handelaars koppe stamp nie. Dit is ‘n historiese stryd wat reeds sedert minstens 2008 die kop uitgesteek het toe die handelaars ook gevra is om hul stalletjies te verskuif.

Tydens Maart 2025 se optrede, wat die sperdatum vir die verskuiwing van alle handelaars was, het ‘n groot teenwoordigheid van die polisie en munisipale wetstoepassers die handelaars en toeskouers onder beheer gebring. Immigrasiebeamptes van die departement van binnlandse sake in die Paarl was ook deel van die optrede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article