Dawie Roodt, aanbieder van ontbytSAKE, bespreek vanjaar se begroting.

Na afloop van die onlangse Nasionale Begrotingsrede deur die Minister van Finansies, het ontbytSAKE ’n spesiale begrotingsprogram op Saterdag, 28 Februarie, uitgesaai om die kernaspekte van die 2026-begroting te ontleed en te bespreek.

ontbytSAKE-aanbieder en bekende ekonoom, Dawie Roodt, het met vooraanstaande kenners, Prof. Jannie Rossouw, ereprofessor aan die Wits Besigheidskool, James Kemp van Pretoria FM, asook belastingskundige, Dr. Albertus Marais, gesels.

Marais het daarop gewys dat die publiek se reaksie op die begroting perspektief vereis. “Dis eintlik ’n aanklag dat ons so opgewonde raak oor die feit dat ons nie swaarder belas word nie, want ons sien in der waarheid glad nie ’n belastingverlaging nie.”

’n Meer positiewe siening is deur James Kemp gedeel, wat aangedui het dat daar tekens van groter samewerking binne die regering van nasionale eenheid sigbaar is. “Wat die ekonomiese beleid betref, sien ons darem dat die regering van nasionale eenheid uiteindelik besig is om mekaar te vind; die buitelandse beleid bly ’n ander saak. Geen inligting het gelek voor die aankondiging nie, wat ook op hierdie samewerking dui.”

Volgens Prof. Jannie Rossouw bly Suid-Afrika se ekonomiese werklikheid kommerwekkend wanneer bevolkingsgroei met ekonomiese groei vergelyk word. Hy het daarop gewys dat bevolkingsgroei tans sowat 50% hoër is as ekonomiese groei, wat beteken dat Suid-Afrikaners op ’n per capita-basis al hoe armer word. “Op hierdie stadium erken die regering ten minste al die foute wat in die verlede gemaak is, maar nou moet hierdie foute reggestel word en ek weet nie of die politieke wil daar is om dit te doen nie.”

Prof. Jannie het verder verwys na die sogenaamde “spookwerkers” binne die staatsdiens, wat na raming die belastingbetalers bykans R12 miljard gekos het. Hy het verder gevra wie hierdie individue is en watter strafregtelike stappe teen hulle geneem sal word en beklemtoon dat daar ongelukkig tot dusver min verdere duidelikheid hieroor verskaf is.

Ten slotte het Dawie Roodt beklemtoon dat Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte steeds ernstige rede tot kommer bied. “Suid-Afrika se ekonomiese groei is nie net swak nie, dis van die swakste in die wêreld.” Hy het verskeie ekonomiese grafieke ontleed en aan kykers geïllustreer hoe Suid-Afrika se groeikoers met dié van ander lande, veral in Afrika, vergelyk. “Suid-Afrika is ekonomies deur verskeie armer lande in Afrika verbygesteek, onder andere Botswana en Mauritius, met tendense wat daarop dui dat die land terselfdertyd teenoor sy eie historiese prestasie agteruitgaan.”

Vir kykers wat hierdie episode misgeloop het, of graag weer daarna wil kyk:  

Uitsaaitye: 

kykNET (kanaal 144) 

  • Saterdag 07:30 – 09:00 
  • Sondag 07:30 – 09:00 
  • Dinsdag 13:00 – 14:30  
  • Donderdag 13:00 – 14:30 

kykNET & Kie (kanaal 145)  

  • Saterdag 08:30 – 10:00  
  • Sondag 06:00 – 07:30  
  • Dinsdag 11:30 – 13:00  
  • Donderdag 11:30 – 13:00 

Hou ook gerus ontbytSAKE se webwerf en YouTube-kanaal dop. Die volledige episode word op Donderdag, 5 Maart, gelaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article