PAARL – In Januarie, ná maande van uitmergelende behandelinge in ’n hoësorgeenheid in Hoea Hin, ongeveer 200km van Bangkok in Thailand, het dit vir Hugo Hattingh (40) en sy pa, Chris, duidelik geword dat hy nie meer die voortdurende teaterprosedures elke derde dag kon volhou nie. Wat gevolg het, was ’n dramatiese en geheime plan om hom uit die hospitaal en terug na Suid-Afrika te kry. Hy het die afgelope Vrydag (28 Februarie) in Kaapstad geland sonder die hospitaal of lugleerdery se medewete.
Ontploffing
Hugo is oorspronklik van Wellington en ‘n oud-Paarl Gimnasium-leerder, en woon reeds sowat 16 jaar in Thailand en het oor die jare ’n gerespekteerde naam as skeepskapitein opgebou.
Die pa van twee seuns het destyds brandwonde oor 80% van sy liggaam opgedoen ná ’n erge ontploffing op 7 Julie 2025 sowat 300 km oos van Bangkok toe petroldampe in die enjinkajuit van ‘n katamaran vlamgevat en ’n ontploffing veroorsaak het wat temperature van tussen 1 800°C tot 2 200°C bereik het. Petrol wat gemors is, is skoonggemaak maar gevaarlike dampe het agtergebly. Toe Hugo die kajuit binnegaan om aan die kragopwekker te werk, het die petroldampe wat agtergebly het vlamgevat en ’n ontploffing veroorsaak.

Ná die ongeluk is Hugo by twee hospitale opgeneem waar hy verskeie operasies ondergaan het. Dit het onder meer gereelde prosedures ingesluit om sy brandwonde skoon te maak – ’n uiters pynlike proses – met sowat 40 operasies in totaal.
As deel van sy herstel moes Hugo weer leer loop en basiese daaglikse take bemeester. Hy kan tans reeds tot 1 000 tree op ’n slag stap, maar het steeds nie volle funksie in sy hande herwin nie en sukkel nog met verskeie brandwonde wat verdere behandeling verg.
Die plan
Volgens Chris het die familie die hospitaal in Hoea Hin versoek dat alternatiewe behandeling vir die brandwonde oorweeg word, maar die mediese span het volgehou dat die bestaande benadering, om die brandwonde “te skrop” moet voortgaan. Intussen het die koste van die menigde mediese prosedures verder verhoog, volgens Chris.
“Teen Dinsdag het ons besef ons het minder as twee dae om Hugo uit Thailand te kry voordat sy volgende teatersessie sou plaasvind,” het Chris vertel. “As ons nie toe beweeg nie, sou die operasies eenvoudig voortgaan.”
LEES: Wellington-skeepskaptein veg om sy lewe ná katamaran-ontploffing in Thailand
Die grootste struikelblok was dat geen dokter bereid was om die nodige mediese klaring te gee dat Hugo geskik is om die lang reis na Suid-Afrika aan te pak nie.
Drie lugrederye wat tussen Bangkok en Kaapstad vlieg, het ook geweier om hom in sy toestand te vervoer. Daar was ernstige risiko’s, insluitend moontlike trombose of spontane bloeding tydens die vlug.
Die plan moes dus in die geheim plaasvind – nie net om die hospitaal se moontlike ingryping te vermy nie, maar ook om te voorkom dat die lugredery hom weier of dat sy pynmedikasie by die lughawe se sekuriteit probleme veroorsaak. Daar was ook die voortdurende vrees dat sy liggaam nie die spanning van die reis sou uitstaan nie.
“Ons moes hom letterlik uit die hospitaal kry sonder dat die mediese span sy vertrek blokkeer,” het Chris gesê.
Praktiese uitdagings het immers groot gebly soos byvoorbeeld dat Hugo nie kon trappe klim nie, nie lang afstande stap nie en dat die reis van sowat 30 ure van Thailand tot in Suid-Afrika fisiek uitmergelend sou wees.
Net vyf mense het glo van die plan geweet.
Hugo is in gewone klere aangetrek wat die verbande aan sy arms en bene versteek het.
Iemand het Hugo in die vliegtuig na Suid-Afrika vergesel om bystand te verleen, terwyl Hugo, volgens sy pa, van die morfien wat in pilvorm deur die hospitaal in Hoea Hin uitgedeel is, weggesteek het en saam met hom op die vlug geneem het om sy pyn te bestuur.
Die morfien het egter op die vlug vanaf Doha na Kaapstad opgeraak waarna Hugo, veral die laaste twee ure, in erge pyn deurgebring het.
LEES: Wellingtonse skipper sterk goed aan ná bootongeluk
Volgens Chris het hulle nie ander sterk pynmedikasie gehad nie, en moes dus ‘n plan beraam.
In ’n verdere wending is die lughawe in Doha slegs ’n paar uur ná Hugo se deurgang gesluit weens konflik in die Midde-Ooste tussen Iran, Israel en die Verenigde State van Amerika.
Nou terug in Suid-Afrika, waar Hugo verdere operasies en arbeidsterapie sal ontvang, lê ’n lang herstelpad van ongeveer ses tot agt maande voor totdat hy weer op ‘n boot kan klim.
Volgens sy pa ontvang sy seun tans tuisversorging.
Vergifnis
Chris erken dat hy en die familie nie die regte prosedures gevolg het nie, maar dat hul dit gedoen het omdat hulle desperaat was om Hugo op Suid-Afrikaanse bodem te kry.
“Ek het gebid vir vergifnis omdat ek sekere feite moes verdraai om die struikelblokke te oorkom,” erken Chris. “Ek besef dit kan ernstige gevolge hê en ek sal verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.”
Hy het gesê dat die hospitaal in Hoea Hin nie gelukkig is oor wat die familie beplan het nie, en dat hulle die hospitaal ook nog ongeveer R1,5 miljoen skuld wat hulle stelselmatig sal afbetaal.
Volgens Chris is die res van die skuld reeds afbetaal deur donasies wat ontvang is asook deur geld wat die familie ingewin het deur bates te verkoop.





