Onderwysers kan nou emosionele bystand ontvang.
Onderwysers kan nou die SAOU-hulplyn vir emosionele bystand skakel. FOTO: Unsplash / Kateryna Hliznitsova

Soveel as 68% van Suid-Afrikaanse werknemers sukkel met stres, baie ervaar uitbranding, en afwesigheid weens depressie kos die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat R19 miljard. Dit beklemtoon dat stres en die gepaardgaande geestesgesondheidskwessies ‘n wesenlike probleem met negatiewe gevolge is.

Een van die beroepe waar dit al meer ondervind word, is die onderwys. Onderwysers sukkel emosioneel en baie van hulle sien geen ander uitweg as om te bedank en van beroep te verander nie.

Hulle word met administratiewe take, asook nuwe reëls en regulasies opgesaal en die werklike opvoedingstaak bly agterweë.

Boonop moet onderwysers twee keer dink voordat hulle ’n kind dissiplineer en konflik moet grootliks vermy word. Oorvol klasse met leerders uit verskillende agtergronde en leerbehoeftes – die sogenaamde inklusiewe klaskamer – dra verder tot die probleem by. Dit is soms haas onmoontlik om orde te handhaaf en kennis oor te dra, gegewe die omstandighede.

Werklading

Onderwysers se taaklys is so lank dat daar nie genoeg tyd vir behoorlike onderrig is nie. Behalwe take soos lesbeplanning, assesserings, buitemuurse aktiwiteite en meer, verhoog die onderwysdepartement se “klem op aanspreeklikheid en prestasiemeting onbedoeld die druk op onderwysers” en word daar ná skool ure deurgebring aan administratiewe take sodat daar min tyd vir rus of ’n gesinslewe oorbly.

Inklusiewe en diverse klaskamers

In baie skole is klaskamers oorvol en omdat daar nie onderskeid gemaak word tussen leerders en hul spesifieke leerbehoeftes en emosionele of gedragsuitdagings nie, word onderwysers verder aan stres blootgestel. Die groot rede hiervoor is dat hulle nie noodwendig opgelei is om hierdie kwessies te hanteer nie. Dikwels is daar ’n gebrek aan hulpbronne en spesialisondersteuning, en dit lei tot frustrasie en ’n gevoel van magteloosheid. Individuele aandag en gehalte onderrig kan nie plaasvind nie.

Dissipline

Leerders se regte, gebrek aan verantwoordelikheid en genoegsame respek veroorsaak dat dit dikwels onmoontlik is om behoorlike dissipline te handhaaf. Dit is gewoonlik enkele leerders wat die chaos veroorsaak, maar ongelukkig ly almal daaronder omdat daar nie genoegsame ondersteuning is om die skuldiges vas te vat nie. Baie sulke leerders het eintlik hulp nodig en hul gedrag is waarskynlik ’n hulpkreet, maar hierdie gespesialiseerde hulp is nie beskikbaar nie.

Fokus op dit wat saakmaak

Beter onderwys berus op die welstand van onderwysers. Daar moet gepoog word om klaskamers kleiner te maak, administratiewe pligte van onderwysers af te skaal, en voldoende opleiding en ondersteuning te verskaf sodat onderwysers weet hoe om inklusiewe onderwys te hanteer.

Wat sê die kundiges?

Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), beaam dat inklusiewe onderwys ’n bydraende faktor vir uitbranding is.

“Die eise van ekstra take eis ‘n tol, soos onderwysers moet deesdae tot die opvoeding van higiëne van leerders bydrae, hulle moet die ouer se taak oorneem om die leerders dissipline te leer, respekvolle gedrag moet ingeoefen word, en eise wat ouers stel, is ‘n groot faktor.

“Wat sport betref, vereis ouers watter posisie en in watter span ‘n kind moet wees, in plaas van om die onderwyser te vertrou. Dit plaas groot spanning op die onderwyser. Dis veral die eise wat buite die kurrikulum lê, wat die onderwysers uitput,” sê Van Rooyen.

LEES OOK: Omskep dissipline in verhouding van samewerking

Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die AON, is dit eens dat daar oor die emosionele welstand van onderwysers gepraat moet word en oplossings daarvoor te kry. Volgens Potgieter het die AON hande geneem met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) om hulp te verleen. Die onlangse verslag oor die Stand van Afrikaanse Onderwys het ook kommerwekkende statistiek getoon.

“Amper 50% van beginneronderwysers verlaat die professie binne vier jaar, juis omdat hulle nie meer weet watter kant toe nie.”

So ook toon statistiek uit die SAOU se Welstandprogram dat ingryping oor die welstand van onderwysers noodsaaklik geword het. Die SAOU het daarom ’n hulplyn in plek gestel wat dien as onmiddellike krisisondersteuning en om psigo-opvoedkundige strategieë en inligting te bied.

Van die probleme wat aangemeld word, sluit in werkverwante uitdagings soos dissipline, klasgrootte en administratiewe las, stres en angs, lae gemoed, trauma, interpersoonlike konflik en selfs selfdoodneigings.

“Onderwysers in leierskaprolle is minder geneig om hul emosionele welstand te bespreek of om raad te vra. Veral skoolhoofde kan nie wys dat hulle ‘swaarkry’ nie, want hulle is immers vir die welstand van hul personeel en leerders verantwoordelik en wil nie erken dat hulle ook hulp nodig het nie,” sê hy.

SAOU Welstandprojek eerste van sy soort

Omdat onderwysers die hoeksteen van ’n sterk onderwysstelsel is, word onderwysers op ‘n sinvolle, praktiese manier bygestaan. Die projek bied ’n holistiese ondersteuningstelsel wat poduitsendings, video’s, selfhelp-hulpbronne en ’n 24/7-noodkrisislyn vir onmiddellike emosionele bystand insluit.

As jy ’n onderwyser is wat nie meer weet waar om aan te klop vir hulp nie, skakel die SAOU se hulplyn. Alle oproepe en boodskappe is gratis en word vertroulik en met die grootste omsigtigheid hanteer.

  • Stuur ’n WhatsApp-boodskap na 064 609 1150, of skakel die noodlyn wat 24 uur per dag beman word, by 012 436 0911.

Bron: Afrikaans.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article