Worcester Standard & Breederivier Gazette

Olimpiese diskusgooier van Worcester klim in die stoeikryt vir WWE

Francois Prinsloo
Francois Prinsloo

Die stoeier stap die WWE-arena onder luide toejuiging binne en die aankondiger laat hoor: “Dames en here, ek stel bekend; al die pad van Suid-Afri­ka, die oud-leerder van Worcester Gimasium en ‘n Olimpiese diskusgooi­er – niemand anders nie as Francois Prinsloo!”

Dis nie net ‘n pypdroom om só aan ‘n skare mense voorgestel te word nie, maar een wat binnekort vir die 23-jarige Prinsloo gaan waar word.

Dié jong man van Worcester het naam gemaak met sy deelname in diskus aan die Olimpiese Spele en deesdae bevind hy hom elke dag in die stoeiring as deel van sy opleiding as ‘n WWE-stoeier.

“Ek was uit die veld geslaan toe ek van die Olimpiese Spele in Frankryk af op die vlug terug Suid-Afrika toe ‘n uitnodiging op Instagram ontvang om aan ‘n proeflopie by die WWE deel te neem,” vertel Prinsloo uit Amerika.

Francois Prinsloo het aan die Olimpiese Spele deelgeneem as diskusgooier. Foto: verskaf

Hy het verlede jaar ‘n nuwe diskus-rekord by die Universiteit van Suid-Alabama met ‘n gooi van 67,20 m opgestel en die Sun Belt Conference-diskuskampioenskap vier jaar agtereenvolgens gewen. In dieselfde kompetisie het hy ook koning gekraai in die hamergooi en is as die Sun Belt Confenrence se manlike atleet van die jaar en die manlike buite-veldatleet van die jaar aangewys. Hy het ook in 2024 die National Collegiate Athletic Association (NCAA) se diskus gewen – met ‘n gooi twee meter verder as dié van sy naaste teenstander.

Prinsloo vertel dat hulle elke dag vier ure in die stoeikryt deurbring.

“Op skool was ek mal oor krieket, rugby en atletiek en het ‘n groot liefde vir drama. Dit alles het gehelp om my voor te berei, maar hierdie is heeltemal anders,” sê hy.

“Ek dink die harde werk om in atletiek uit te blink, het my selfdissipline geleer, wat my ‘n voordeel gee. Drama het nog altyd vir my natuurlik gekom en gee my selfvertroue. Ek het vroeg al verstaan wanneer jy toneel speel, dit nie jy is nie, maar ‘n karakter wat jy vertolk. Ek het dit nog altyd geniet.”

Om dié soort stoei vir die vermaak van die skare te doen, is nie so eenvoudig soos om net ‘n Springbok of gespierde akteur in ‘n stoeikryt te sit nie.

“Ons kry baie opleiding oor tegniese vaardighede, oor tradisies, hoe om te praat en met die media te werk,” vertel hy.

Die voorbereiding is harde werk met baie ure wat in die kryt deurgebring word. Prinsloo se eerste stoeigeveg behoort binnekort uitgesaai te word en mense van sy tuisdorp sal gou kan sien hoe sy teenstanders soos diskusse oor die kryt vlieg.

Is hy Worcester se eie Hulk Hogan of John Cena?

Prinsloo is opgewonde oor die onverwagse wending wat sy sportloopbaan geneem het.
“Aan die einde van die dag wil ons ‘n glimlag op elkeen in die arena – oud en jonk – se gesig verseker!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article