Volgens Adriaan Jansen, afrigter van Oakdale se 1ste XV, is hulle voorbereiding goed op dreef veral na die onlangse Global Schools Challenge wat hulle in Spanje gaan speel het.
Oakdale mik om vanjaar in ide top 5 te eindig. Credit: LINDY TRUTER PHOTOGRAPHY

Oakdale mik om vanjaar in die groot vyf te eindig. Dié rugbykrag van Riversdal klomp nou ‘n paar jaar aan die groot vyf se deur. Hulle het verlede jaar teen vier van dié skole gespeel en twee getroef. Vanjaar gaan hulle teen al vyf speel.

Volgens Adriaan Jansen, afrigter van Oakdale se 1ste XV, is voorbereiding goed op dreef – veral ná die onlangse Global Schools Challenge wat hulle in Spanje gaan speel het.

“Ons het redelik gesien wat ons wil sien, alhoewel daar altyd nog outjies is wat later eers weer hand opsteek. Vir ons is dit belangrik dat ons diepte vir die seisoen bou,” verduidelik hy.

Jansen hoef darem nie heeltemal van voor af te begin met ‘n span nie. Ongeveer agt spelers het verlede jaar reeds by die 1ste XV gespeel. Die meeste van dié spelers is in die enjinkamer, wat sal help om kontinuïteit voorlangs vir Oakdale te gee.

“Dit help dat daar spelers is wat al aan eerstespanrugby blootgestel is. Hulle help ook om die nuwe manne makliker te laat inval. Ons is bevoorreg dat meeste van ons seuns in die koshuis is, dit is vinniger om hulle as ‘n groep bymekaar te trek,” meen Jansen.

Volgens hom wil die manne van Oakdale elke jaar verbeter – hulle meet nie hulleself teen ander skole nie en sal die komende seisoen wedstryd vir wedstryd vat.

“Ons doen die laaste paar jaar goed, maar dit is nou tyd dat ons nie meer net kompeteer nie. Ons moet nou deurbreek in die top vyf in. Ons besef ons werk met kinders en dat hulle baie druk van verskillende plekke ervaar. Ons werk is om hulle te help om die druk te hanteer.”

Jansen is vasbeslote dat verlede jaar se goeie seisoen vergete is.

“Dit is ‘n nuwe groep wat nou hulle eie herinneringe moet maak. Dit gaan nie maklik wees nie, ons het nie maklike wedstryde nie, maar dit is hoe ons dit wil hê. Ons is ‘n landbouskool wat altyd tot die einde toe sal baklei,” vertel hy.

Die taak op hande vir Jansen en sy Oakdale Bulle kan nie onderskat word nie. Hulle speel vroeg in die seisoen teen Grey college. Twee weke later vertrek hulle Pretoria toe, waar hulle Affies en Noordheuwel by die Noord-Suid toernooi gaan aanvat. Volgens Jansen gaan Affies waarskynlik hul grootste toets wees.

“Boishaai, Gim, Grey, Paul Roos, almal is moeilik, maar Affies in Pretoria voor hulle tuis skare dink ek gaan die moeilikste wees,” meen Jansen.

In die pad van Oakdale se grootvyf-droom, is nie net die huidige groot vyf nie – ook spanne soos Stellenberg, Durbanville, Outiniqua en Oakdale se interskoletoets, Boland Landbou. Oakdale het verlede jaar teen Boland vasgeval en sal sake moet regstel as hulle in daardie gesogte topvyf-plek wil eindig.

“Dit is belangrik, ‘n groot wedstryd vir ons en vir hulle. Albei landbouskole wat passievol is oor rugby,” sluit Jansen af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article