KURUMAN – Inwoners van dié Noord-Kaapse dorp sê die probleem met prostitute in die dorp is ver van opgelos nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se beslagleggingseenheid ‘n bewaringsbevel van R3 miljoen teen die eens swierige Grand Hotel verkry het waar prostitusie glo openlik bedryf is.
Die probleem duur al langer as ‘n dekade waar vroue na bewering van die afgeleefde hotelkamers gehuur en hul dienste verkoop het, meesal aan vragmotorbestuurders wat die besige N14-roete tussen Upington en Johannesburg gebruik.
Volgens een inwoner was mense altyd bang om langs die hotel in Bearestraat te parkeer. Pasiënte wat die spreekkamer in die straat besoek het, het ook ver weg parkeer uit vrees vir misdadigers.
“Grypdiewe was nog altyd bedrywig in Bearestraat en die probleem met die vroue van die nag het dit vererger. Met dié dat die polisie op die hotel toegeslaan het, huur die vroue na bewering nou ander kamers in ‘n gebou in die dorp.
“My stiefpa het al daar verby gery en dan lig daai vroue hul rokke op. Ons is skoon bang om na sononder daar te ry, want dit voel baie gevaarlik. Daar sit ook altyd mense en drink voor die gebou, wat baie gevaarlik is omdat dit so ‘n besige kruising is. Dronk mense loop voor voertuie in. Daar is ook nie meer duidelike merke op die padoppervlak wat aandui dat dit ‘n stopstraat is nie, wat motoriste verwar,” sê sy.
Bewaringsbevel uiteindelik toegestaan
Die NVG het op 15 Augustus die bestraffende bevel teen Fabao Wen, ‘n Chinese sakeman wat ook drankwinkels besit, in die hooggeregshof in Kimberley verkry. Die bevel is ook op die Keega Boerdery Trust beteken wat binne 14 dae moet aandui of hulle die aansoek gaan teenstaan.
Volgens Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, het hul batebeslagleggingseenheid die bewaringsbevel teen die Grand Hotel in Kuruman verkry nadat die aansoek verlede jaar ingedien is.
“Die bewaringsbevel is aanvanklik op 7 Maart 2024 toegestaan. Dit is egter teengestaan en op 8 Augustus 2025 geargumenteer. Die hooggeregshof het op dieselfde dag in ons guns beslis.
“Die bevel spruit uit ‘n misdaadintelligensie-geleide operasie oor gerugte dat die Grand Hotel na bewering as ‘n bordeel bedryf is. Die polisie het met ‘n deursoekings- en beslagleggingsbevel toegeslaan. Die departement van binnelandse sake was ook betrokke weens vermoedens van buitelandse burgerlike betrokkenheid.
“Tydens die klopjag het beamptes verskeie vroue teëgekom wat hulself as sekswerkers geïdentifiseer het. Sommige het formele verklarings afgelê. Ondersoekers wat die perseel gefotografeer het, het bokse kondome en bottels drank in elke kamer, en vullisdromme met oop en gebruikte kondome ontdek.
“Die NVG gebruik bateverbeuring as ‘n strategiese wapen om misdadige ondernemings wat wins uit onwettige aktiwiteite maak, te ontwrig. Dit verseker vervolging en die permanente ontneming van misdadigers se winste,” sê Senokoatsane.





