Minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi.
Minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi.

Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) en die Ministerie van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling het vandeesweek albei sterk bewoorde verklarings uitgereik teen dreigemente en intimidasie teenoor amptenare vanweë die uitvoering van hul pligte.

Adv. Andy Mothibi, NVG-hoof het vroeër ‘n video veroordeel wat op sosiale media versprei is waarin ‘n beweerde lid van die uMkhonto weSizwe-party (MKP) die hoofkantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) probeer bestorm het.

Die man het dreigemente geuiter teen ‘n senior ondersoeker van die Batebeslagleggingseenheid (AFU) en gedreig om toegang tot die gebou vir 14 dae te blokkeer tensy miljoene rande aan “die vroue van Suid-Afrika” uitbetaal word.

Die herrie spruit uit meer as R4 miljoen wat deur die AFU bevries is in bankrekeninge van Women Against Poverty and Hunger (WAPH), wat verband hou met die Growsave-stokvel. Die NVG voer aan die skema het onmoontlike opbrengste van meer as 1 600% aan deelnemers belowe en dit is as ‘n onwettige vermenigvuldigingskema bedryf.

Adv. Mothibi het bevestig dat ‘n kriminele klag reeds by die polisie ingedien is na aanleiding van die intimidasie.

Intussen het die Minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, ook haar ernstige kommer uitgespreek oor dreigemente teen Kaizer Kganyago, amptelike woordvoerder van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE).

Die dreigemente is na bewering deur ‘n verteenwoordiger van Omar’s Motor Den gemaak, ‘n motorhandelaar wat deel vorm van die SOE se ondersoek na tenders by die Tembisa-hospitaal. Dit volg op ‘n uitspraak deur die Spesiale Tribunaal rakende voertuie wat op Morgan Maumela, vermeende tendersakeman, se eiendom beslag gelê is.

Die Ministerie sê Kganyago praat in sy amptelike hoedanigheid en dat enige vorm van aanhitsing of dreigemente teen amptenare nie geduld sal word nie.

“Suid-Afrika is ‘n konstitusionele staat gegrond op die regstelsel, en hierdie beginsels moet te alle tye gerespekteer word,” sê Kubayi.

Albei departemente beklemtoon dat openbare amptenare toegelaat moet word om hul wetlike verantwoordelikhede uit te voer sonder vrees vir intimidasie of teistering.

Enige party wat gegrief voel deur die optrede van die NVG of die SOE word aangemoedig om die korrekte en wettige kanale vir regshulp te volg soos vervat in die Grondwet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article