Die ingang na die Landskroon-wynplaas op die Suid-Agter-Paarl-pad. Foto: Landbouweekblad

Die Landskroon-wynplaas in Suider-Agter-Paarl is – saam met grond op verskeie ander plase in dieselfde omgewing – aan die eiendomsontwikkelaar Fijnland Holdings verkoop. Die maatskappy beoog om ‘n leefstyllandgoed met die naam Fijnland op hierdie eiendom te ontwikkel. Die ontwikkeling sal ook dele van ander plase met dieselfde ligging insluit.

Een van Fijnland Holdings se lede is Martin Venter, ‘n stigterslid van die gesogte Val de Vie-landgoed in die Paarl.

Volgens Fijnland se aandeelhouers is die leefstyllandgoed “in ‘n vroeë stadium en tans is daar nog geen ontwikkelingsregte nie. Die eiendom val wel binne die Drakenstein-munisipaliteit se sogenaamde “urban edge”, maar het nog geen finale uitlegte of tydlyne nie, – slegs ‘n droom en visie vir die toekoms.

Wynbedryf het verander

Paul de Villiers, saam met sy niggies die vyfde geslag van die De Villiers-familie wat op Landskroon geboer het, het aan Landbouweekblad vertel dit was ‘n moeilike besluit om die familieplaas te verkoop.

Volgens hom is die wynbedryf “nie meer wat dit was toe ons [die De Villiers-familie] destyds begin het nie,” het hy aan Landbouweekblad gesê. “Die speelveld het met die verloop van jare baie verander, met baie meer handelsmerke en etikette op die mark. Dit was dus nie meer so maklik nie.”

Volgens Van Schalkwyk is dit ” ‘n grondbeginsel vir ons dat enige ontwikkeling die karakter, omgewing en geskiedenis van die gebied sal erken”.

“Dit sal ook beperk bly tot gebiede tussen die Suid-Agter Paarl-pad, die R44 en die N1 [met] die deel bó die Suid-Agter-Paarlpad wat nie ontwikkel sal word nie. Die gasvryheidsbedrywe soos Fairview en Spice Route sal onaangeraak bly.

“‘n Belangrike prioritiet vir die beoogde ontwikkeling is dat hoë-potensiaal landbougrond behou sal word. Op Val de Vie, byvoorbeeld, is landbou-ondernemings begin – veral om werkskepping en toerisme te bevorder. Val de Vie beskik oor meer as 150 hektaar landbougrond en het reeds bewys watter positiewe impak só ‘n benadering op die plaaslike ekonomie kan hê. Ons wil graag voortbou op dié benadering,” het Van Schalkwyk bygevoeg.

Buitelewe

Volgens De Villiers het hulle die afgelope paar jaar gereeld navrae ontvang oor beskikbare wynplase in die Suider-Agter-Paarl-omgewing vir ontwikke-

lingsdoeleindes, en die De Villiers-familie het uitendelik besluit om hul grond aan Fijnland te verkoop.

Een van die verkoopspunte van die Fijnland-ontwikkeling, volgens hul webtuiste, is dat huiseienaars die buitelewe kan geniet met verskeie oop ruimtes en plaasdiere soos beeste en perde, wat deel vorm van die landskap.

Van Loveren, ‘n wynplaas net buite Robertson in die Langebergstreek, het sowat 67 hektaar van Landskroon by Fijnland Holdings gekoop. Die transaksie sluit Landskroon se pakhuis, kelder, botteleringsaanleg, handelsmerk en kantoor in. Die doel van die verkryging is om Survivor Wines – ‘n handelsmerk wat Van Loveren teen die einde van 2024 gekoop het – op hierdie perseel te vervaardig.

Landskroon beslaan 720 ha.

Volgens ‘n persverklaring deur Van Loveren sal die kelder na verwagting vroeg in 2026 heropen. Die Landskroon-handelsmerk sal aktief bly en voortgaan onder Van Loveren se eienaarskap, met behoud van sy eie identiteit, terwyl dit voordeel trek uit Van Loveren se bemarkings-, verkoops- en verspreidingsvermoëns.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025