Op die eerste van vanjaar se vier ysbeerswembyeenkomste het deelnemers ’n watertemperatuur van 9 °C aangedurf.
Dié byeenkoms het op Saterdag 29 Junie by die Allemanskraaldam naby Ventersburg plaasgevind, en op Saterdag 6 Julie om 12:00 vind die tweede swembyeenkoms plaas, by die Doringbos-venue sowat 35 km buite Bloemfontein.
Felix Burri, organiseerder en stigter van die Goldco Spares Polar Bear Swim-byeenkomste, wat vanjaar ’n 29ste keer aangebied word, sê watertemperature van 3 °C tot 8 °C kan verwag word. Afhangende van die wind kan die lugtemperatuur selfs kouer wees.
Die mees uitdagende byeenkoms is waarskynlik op 13 Julie om 12:00 in die Rogge Cloof- private natuurreservaat buite Sutherland, waar selfs sneeu verwag kan word.
’n Vierde byeenkoms vind op 20 Julie by Victoriabaai in die Wes-Kaap plaas.
Burri sê die doel van die byeenkomste is om geld vir geïdentifiseerde liefdadigheidsorganisasies in te samel.
Om in te skryf kos R100 per persoon, wat op die dag van die byeenkoms tien jaar of ouer moet wees.
Vir meer inligting, besoek die Polar Bear/Ysbeer Swem-blad op Facebook, of bel Burri by 082-851-4584.




