By die Chery Tiggo 4Pro wat Human Auto Kimberley aan die Yonder Hartsfees beskikbaar stel, is Jannie van Zyl (links, feesdirekteur) en Jean Retief (verkoopsbestuurder Chery Kimberley). Retief sê Human Auto wil die fees-komitee se werk makliker maak, en dat die handelaar betrokke is om persone met gestremdhede te ondersteun omdat hulle volwaardig deel van die gemeenskap is.

Foto: Helena Barnard

“Wat ’n wonderlike ervaring toe Human Auto Kimberley se handelaarshoof, RP Welthagen, ’n Chery Tiggo 4Pro aan die Yonder Hartsfees beskikbaar gestel het om reëlings vir die fees te vergemaklik.”

Só vertel Jannie van Zyl, feesdirekteur, wat sê dat die Yonder Hartsfees vanjaar vir die derde keer in Kimberley aangebied word.

“Elke keer word die fees groter en beter. Borge en skenkers speel ’n groot rol in die sukses hiervan. Gemeet aan die gemeenskap se betrokkenheid by die fees, gaan dit vanjaar nog groter en beter wees.”

By die Chery Tiggo 4Pro wat Human Auto Kimberley aan die Yonder Hartsfees beskikbaar stel, is Jannie van Zyl (links, feesdirekteur) en Jean Retief (verkoopsbestuurder Chery Kimberley). Retief sê Human Auto wil die fees-komitee se werk makliker maak, en dat die handelaar betrokke is om persone met gestremdhede te ondersteun omdat hulle volwaardig deel van die gemeenskap is.

Van Zyl sê parkering vir besoekers word vergroot, met vervoer van en na die hekke, die toegange is vergroot, en die venue waar kunstenaars optree is verder ontwikkel. Boonop sluit die toegangsgeld alle vertonings by die fees in, en goedkoper familiepakkette en toegangskaartjies kan aanlyn gekoop word vir vinniger toegang tot die terrein.

Kosstalletjies met ’n verskeidenheid geregte is ’n moet om te besoek, so ook die lewendige uitstallings van die Yonder-vaardigheidsprogram, ’n modelkompetisie, ’n barnyard met plaaslike en nasionale kunstenaars, stalletjies, ’n pretpark met mallemeule, en nog meer.

Van Zyl sê die eerste klanktoerusting is die naweek afgelaai en die eerste verhoog reeds gebou.

Die fees word aangebied om in die behoeftes van die persoon met ’n gestremdheid, te voorsien. Die inkomste uit die fees word aangewend om toerusting te onderhou, en nuwes te koop om die vaardigheidsopleiding meer sinvol te maak.

“So word waarde toegevoeg tot die persone wat met ’n gestremdheid leef deur hulle te bemagtig om die ope arbeidsmark te betree.”

Die fees vind van Donderdag 31 Augustus tot Sondag 3 September plaas.

Hou NoordkaapBulletin, wat die gedruktemediaborg van dié fees is, en sosialemediaplatforms vir meer inligting dop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article