PJ Powers en die Soweto-gospelkoor tree by die Yonder Hartsfees op.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Besoekers aan die derde Yonder Hartsfees in Kimberley kan na hope pret en net soveel aktiwiteite uitsien wanneer dié fees van 31 Augustus tot 3 September plaasvind.

Soos voorheen bied stalletjies produkte te koop aan – van eetgoed tot kuns, speelgoed, handgemaakte ware, huishoudelike produkte en plante, en nog meer.

Bekende kunstenaars én plaaslike talent kry ’n beurt op die verhoog, en kinders kan ure in die speel- en pretpark besig gehou word. Verskeie sportaktiwiteite is op die program, asook bekendes wat in gesprek tree.

PJ Powers en die Soweto-gospelkoor tree by die Yonder Hartsfees op.

Vanjaar is die Yonder Experience en Die Spens nuut op die fees, waar die vaardighede van Yonder-inwoners besigtig kan word en van hul produkte te koop aangebied word.

Die fees begin amptelik op Woensdagaand 30 Augustus met ’n steak-ete, veiling en vertoning deur Pietman Geldenhuys.

Donderdag, en vir die duur van die fees, maak die hekke om 09:00 oop. Op dié dag word voorsiening gemaak vir 1 000 kinders uit die gemeenskap, en 100 bejaardes word op lekkernye en items trakteer. Ander besoekers is ook dié dag welkom.

Ekonoom Dawie Roodt gesels om 09:30.

Vrydag om 09:00 vind ’n aanbieding oor bewusmaking van die mens met ’n gestremdheid plaas. As deel van die fees begin die interprovinsiale boccia-kampioenskapsbyeenkoms by die Elizabeth Conradie-skool, en dit duur tot Sondag.

Plaaslike kunstenaars tree op en ’n skoonheidskompetisie word onder meer aangebied, met Dodo se optrede om 21:00 wat die dag se program afsluit.

Saterdag om 07:00 begin die para-fietsry­wedren by die Kimberley Junior School, met ’n pretwedloop om 08:00 op die feesterrein. Ollie die Nar, DJ Tom Tom en Carine Beyleveld vermaak die kleinspan om 09:00, en Amore Bekker is die gas op ’n oggendtee-geselligheid om 10:00. Toutrek en bulletjierugby vind plaas, met PJ Powers en die Soweto-gospelkoor, saam met skoolkore, wat om 17:00 optree. Om 21:00 is dit Nicholis Louw se beurt.

Sondag om 10:00 begin ’n gospel-oggend, met kunstenaars wat tot 13:00 optree.

Die fees vind weer op Malu-park, die feesterrein van die Noord-Kaapse Geestesgesondheid in Kimdustria, plaas. Veilige parkering is langs Hendrik van der Biljstraat by die toegangshekke beskikbaar. Vervoer na die terrein kan ook gereël word.

Vanjaar kan besoekers al die vertonings van die kunstenaars met hul toegangs­kaartjie bywoon, en pakkette is beskikbaar.

  • Koop kaartjies aanlyn op iTickets. Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir skakels en die volledige program. NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg van die fees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article