Die ANC het ná sy wenlopie in die tussenverkiesing in wyk 1 in die Sol Plaatje-munisipaliteit besluit dat die vervalle Roodepan-woonstelle gesloop en nuwe huise vir dié inwoners gebou moet word.
Dié party sê hy is “verheug dat kiesers hom steeds vertrou”, maar erken hy moet optree om die Patriotic Alliance (PA) se toename in steun teen te werk.
Die ANC se steun het van 41% in die 2021 plaaslike verkiesing tot 32% afgeneem, terwyl die PA se steun van 11% na 25% toegeneem het. Die DA het 25% teenoor sy vorige 36% behaal. Vaughan Settley, ’n onafhanklike kandidaat en vorige ANC-raadslid, het 13% behaal. Good wat in die 2021 verkiesing 13% gehad het, het nie deelgeneem nie.
Prof. André Duvenhage, politieke kommentator van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê sedert die 2021 plaaslike verkiesing is die stempatrone van identiteitspolitiek al hoe meer opgemerk.
“Die ANC se trajek van steun neig afwaarts op nasionale en provinsiale vlak. Dit is relatief in lyn met meningspeilings wat toon die ANC se nasionale steun begin daal, dalk tot onder 40%. Ek lees dit ook in die betrokke tussenverkiesing se uitslae. Wat kritiek belangrik is, is dat partye soos die DA en PA, VF Plus en Action SA en ander kleiner partye nouer moet saamwerk as hulle die ANC wil ontsetel.
“Vir die opposisie om koalisieregerings te laat werk, moet hulle die brûe tussen kultuuridentiteite oorsteek.”
Die verkiesing op 22 Februarie in dele van Roodepan en Platfontein is gekenmerk deur kritiek uit opposisiegeledere dat staatsmasjinerie ten gunste van die ANC ingespan is vanweë die vele staatsdiensveldtogte wat hier gehou is.
Deshi Ngxanga, provinsiale ANC-sekretaris, sê die uitslag toon kiesers vertrou die party om die uitdagings in die gemeenskap op te los, ongeag negatiewe kritiek.
“Ons het reeds aan die werk gespring. Mmamoloko Kubayi, minister van menslike nedersettings, en Bentley Vass, LUR vir plaaslike regering, het die afgeleefde Roodepan-woonstelle inspekteer.
“Die besluit is dat nuwe huise vir die inwoners gebou moet word eerder as om die woonstelle op te knap. Die woonstelgeboue moet gesloop word.”
Nog ’n uitdaging is die werkloosheid onder die jeug, en slaggate in Roodepan moet ook herstel word, sê Ngxanga.
- Lees ook: ‘PA g’n Mickey Mouse-party’


