Enigeen wat hekel, brei, spin of weef word genooi om by die eerste ooit wolbomuitstalling of “yarn bombing” in Fraserburg betrokke te raak.
Selfs al doen jy nie een van die genoemde handewerke nie, kan jy steeds produkte skenk wat met een van die prosesse vervaardig is – oud of nuut – of jy kan wol stuur.
Dié gebeurtenis in Julie gaan hoofsaaklik in en om die munisipale tuin in dié Noord-Kaapse dorp plaasvind. Een van die hoofmikpunte is om die korbeelhuis in die munisipale tuin in ’n kleurvolle wolbomskepping te tooi.
Oor die wolbomuitstalling sê Marinda Oberholzer dat sy net die dagmoeder hiervan is, terwyl dit eintlik Desiré Cloete se baba is.
“Die doel van hierdie uitstalling is meerledig,” sê Cloete.
“Met die tienjaardroogte kry boere geweldig swaar, en probeer steeds hul merinoboerderye aan die gang hou.
“Tot 50 jaar gelede was hier spin- en weefhuise in die Fraserburg- en Williston-omgewing, en wolwinkels oral in die land. Nou trek wolwinkels swaar, baie maak toe.
“Ons voer ons merinowol uit waar dit in die buiteland verwerk word, en dit word ten duurste weer ingevoer.”
Sy voeg by dat hulle graag die wolverwerkingsvaardighede plaaslik weer wil terugbring.
“Met een bol wol kan jy ’n mus en vingerlose handskoene brei of hekel. Dit kan jou of iemand anders help om warm te bly in die winter.
“Sulke handewerk is bemagtigend. Dit skep bewusmaking dat jy nie magteloos is nie. Jy kan ’n poncho maak, jy kan iets maak vir iemand; iets maak om te verkoop.”
Cloete verwys dan ook na die internasionale Yarn Bombing Festival wat jaarliks in Milan aangebied word, en groot byval vind.
Die newevoordeel van so ’n projek is dat mense weer betrokke raak by ander en by die gemeenskap.
“As jy hekel, brei, spin of weef is jou hande besig. Jy kan gesels, of dink, of kuier met die om jou. Dit dien as beradingsessies; dit bring ook generasies nader aan mekaar.”
Cloete sê wat ook al die uiteinde van dié uitstalling is, hoop hulle dat van hul produkte internasionaal opgeveil sal word. ’n Wolkammasjien is van die eerste stukke toerusting wat hulle graag sal wil bekom.
“Dit is die eerste jaar dat ons dit doen; dit is ’n klein saadjie wat nog moet groei.”
Enige produk in enige grootte, vorm, kleur of patroon wat van onder meer wol- of katoenvesel gebrei, gehekel, gespin of geweef is, is welkom by die uitstalling.
Selfs produkte wat met “T-shirt yarn” gemaak is, kan uitgestal word.
Oberholzer sê byna so belangrik soos die produk wat gebring of gestuur word, is ’n gelamineerde bemoedigende boodskap daarby.
“Met die droogte is mense se emosies op ’n vlak waar dit nie ’n goeie plek is nie,” sê sy.
Verskillende wolbomdele word van 1 tot 7 Julie deur lede van die gemeenskap geheg, en van 8 tot 14 Julie vind die uitstalling plaas.
Produkte kan per geleentheid, of met ’n koerierdiens of met Pep se Paxi-diens gestuur word.
Mense is welkom om hul selfgemaakte gebreide, gehekelde, geweefde of gespinde produkte te kom uitstal vir verkope.
Bel of stuur ’n WhatsApp-boodskap na Cloete by 084-707-7735 of Oberholzer by 072-386-0102.





