Die 14-jarige Zimri de Wet van Kimberley is as die Teen Miss RSA tydens die Mini Miss RSA-skoonheidswedstryd aangewys.
Zimri, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Diamantveld, het met dié kroning op 1 Oktober by die Wawielpark-vakansieoord by Klerksdorp nou die geleentheid om volgende jaar in Amerika te gaan deelneem. Sy is ook gekies om aan die New York Fashion Week deel te neem.
Sy is reeds van vierjarige ouderdom tuis op die loopplank, en het sedertdien al meer as 100 titels gewen, waarvan ses nasionaal is.
Zimri het aanvanklik met modelwerk begin om meer selfvertroue te kry, maar dit het gou ’n passie geword wat vir haar reeds vele geleenthede geskep het, vertel haar ma, Jolandi. Sy het haar eie veldtog, The Right to Know, begin waar sy kinders leer dat hulle enigiets kan bereik deur hard te werk en elke geleentheid wat jy kry, te gebruik.
- Die Mini Miss RSA en Mini Mr RSA is ’n nasionale skoonheidswedstryd vir meisies van 4 tot 25 jaar, en vir seuns van 4 tot 19 jaar.





