“Dora en Whashiela patsy graag op lit aande in die holte van Hoerikwaggo se skaduwee. Die girls is nie op hul bek geval nie.
“Maar albei weet ook die veilige hawe van sisterhood kan hulle nie beskerm teen die geweld wat snags op donker sypaadjies sluimer nie.
“Een oggend op Bellville-stasie gebeur iets wat hul lewe onherroeplik verander.
“Verlies dryf Dora na die verkeerde kant van die stad, maar die witpyp bring slegs tydelike verligting.
“Sy het later geen keuse nie as om terug te keer na haar ma- en pagoed in die Noord-Kaap.”
Dianne du Toit Albertze, oorspronklik van Springbok, se debuutroman, Bottelnek breek bek, is ’n aangrypende ondersoek na identiteit, na huis en behoort. Opreg, vlymskerp én hartverskeurend.
Een leser van NoordkaapBulletin staan ’n kans om die boek te wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, waar jy bly en kontaknommer voor of op 17 Oktober na helena.barnard@media24.com
Chérene Pienaar het Maandag 3 Oktober met Dianne du Toit Albertze gesels:
Of jy transgender is of nie, dit is onvermydelik as ’n vroulike persoon om geweld, hetsy op ’n mikrovlak of “in jou gesig”, in hierdie land te vermy.
So sê Dianne du Toit Albertze (26), onderwyseres in dramatiese kunste van die Hoërskool Okiep.
Sy is vandeesweek by die Vrystaat Kunstefees om oor haar debuutroman, Bottelnek breek bek, te praat.
Albertze was die eerste wenner van die Vrystaat Vrynge se skryfbeurs in 2019, en het Maandag met Pieter Odendaal, ’n digter van Potchefstroom (oorspronklik van Bloemfontein) by die ATKV Boeke-oase oor haar boek gesels.
Sy meen daar moet meer gepraat word oor geslagsgeweld.
“En ons moet die plegers van geslagsgeweld se kant begin insien en wegbeweeg van die wit-en-swart-denkwyse en net fokus op die slagoffer.”
Bottelnek breek bek handel oor ’n meisie wat verstrengel raak in die geweld van die stad; dwelms en polisiegeweld, en dan omarm sy dít wat familie beteken, sê Albertze.
“Dit is bloedfamilie én gekose familie, wat belangrik vir die queer-kultuur is, want jou eie familie verwerp jou, dan vind jy jou susters en jou broers.
“Vir die karakter was dit verskriklik belangrik.”
Vir haar was die skryf van die boek die pad na genesing toe sy self aan dwelms verslaaf was toe sy onderwys aan die Universiteit Stellenbosch studeer het.
Deesdae woon sy in Matjieskloof en geniet dit mateloos om drama te gee vir hoërskoolkinders, waar sy ’n hele ateljee van haar eie het. Dawn Langdown, legendariese danser, choreograaf en onderwyser by dieselfde skool wat in Augustus gesterf het, was tot aan die einde haar mentor, sê sy.
Albertze se ouers woon op Springbok, waar sy ook grootgeword het.
“Al daai dorpies is soos spinnekopbeentjies gelink aan mekaar.”
Ouer mense moet besef die lewe is baie vinniger, veral geweld wat jou baie vroeër in jou lewe in die gesig staar.
“Geweld is baie erger op die queer-gemeenskap omdat ons soveel meer sigbare teikens is.”
Om op Springbok groot te word, het haar ’n nederige mens gemaak.
“ ’n Mens bly so naby aan die aarde. Jy moet hard werk om geleenthede te kry.”
- Sy is besig met ’n Namakwalandse trilogie en is ook al aan die skryf aan haar volgende roman. Die Literatuurfees is deel van die Vrystaat Kunstefees (2 tot 8 Oktober) en die program kan op laasgenoemde se webtuiste besigtig word.





